Dagpatrollie-lede het net na 20:00 eergisteraand twee kriminele peste in Ngwakostraat verjaag, waar hulle besig was om kragkabels uit ‘n lamppaal te steel.
Ongelukkig was die skade reeds gedoen, en is ’n huis in die straat sonder elektrisiteit gelaat.
’n Noodroep is omstreeks 20:06 na die Dagpatrollie WhatsApp kanaal gemaak, met lede wat net vier minute na die noodroep, om 20:10, daar gestop het.
Met hul aankoms het die twee kabeldiewe egter laat spaander en die nag in verdwyn.
Die lamppaal was reeds oopgebreek en van die kabels uitgetrek, wat vermoedelik ’n kortsluiting veroorsaak het, en die betrokke huis se ligte uitgedof is.
Die Dagpatrollie het dadelik op die munisipaliteit se nommer gedruk en ’n munisipale span was kort daarna ook op die toneel.
Die kabels is weer gekoppel en die huis se ligte was weer aan.
Die klaer was verstom met die munisipaliteit se flinke optrede en loof die span vir hulle hulp.
Lof word ook toegeswaai aan Dagpatrollie-lede vir hul teenmisdaad ‘pest-control’.
