Daar is twee wegholtreine op pad, ’n rooie en ’n groene.
Die botsing word Saterdag om 13:30 verwag.
Die drywer in die groen trein is Coené Nolte en die rooie se treindrywer is Jano Venter.
Wanneer HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg mekaar Saterdag in die eindstryd van die SDC Noordvaal plaatafdeling pak, is dit nie net nog ’n wedstryd nie.
Dit is nie ’n derby nie.
Hierdie keer is dit persoonlik.
Dit is die grootste prys, om gekroon te word as kampioenspan.
Na sy derby nederlaag vroeër die jaar teen Middies sal die Rooi Bulle daarop uit wees om die bordjies te verhang.
Hulle het daardie kragmeting weggesmyt deur swak besluitneming en oorhaastigheid.
Beide spanne het sedertdien met rasse skrede verbeter.
Die Rooi Bulle het op 9 Augustus met 36-30 teen Zwartkop verloor.
Hoërskool Middelburg het vroeër met 19-30 teen dieselfde span vasgeval.
Die afgelope naweek in die halfeind wedstryde het beide die groen en rooi vyftientalle manjifieke oorwinnings behaal.
HTS het Klerksdorp in ’n wegwedstryd met 23-10 ore aangesit en Middies het vriend en vyand verras deur die einste Zwartkop, wat die seisoen onoorwonne was, met 22-19 te klop.
Matthew Abbey het die Pretorianers met vyf strafdoele gestraf en ook Dewald du Toit se drie verdoel.
Dit kan dalk Saterdag die stryd van die skoppers wees, want Tercius Bezuidenhout het self met sy skopstewel beïndruk deur met drie strafdoele en twee doelskoppe teen Klerksdorp te slaag. Ethan Kock en Ruwan Graaff het die drieë gedruk.
Saterdag kan dalk ook ’n kleedrepetisie wees wie volgende jaar die Puma Cravenweekspan afrig.
Met JJ Hennop wat hoof geword het by Hoërskool Middelburg sal sy skedule dalk net te straf wees om weer die Pumas af te rig.
’n Nuwe afrigter word oor drie weke gekies en die eindstryd is opwindend, omdat twee van die provinsie se mees belowende afrigters teen mekaar te staan kom.
Program:
9:00 o/14 Wesvalia vs Kemptonpark.
10:10 o/15 Oos-Moot vs Zwartkop.
11:20 o/16 Hoërskool Middelburg vs Oos-Moot.
13:30 Eerstes HTS Middelburg vs Hoërskool Middelburg.
Hoërskool Middelburg het met sy oorwinning oor Zwartkop amptelik opgeskuif na die Bekerafdeling waar EG Jansen, Garsfontein, Helpmekaar, Waterkloof, Monument, Noordheuwel, Nelspruit, Marais Viljoen en Menlopark, op hulle wag.
Met meme’s wat vanaf Saterdag rondgestuur word van ’n muis wat deur ’n bul geboelie word, kan verwag word dat man en muis by die eindstryd sal wees.

