Smaakmakers kry miljoene volgelinge deur videos op TikTok te laai.
Hoe meer die trefslae, hoe groter die sukses.
Daar is al selfs ’n toekenning vir die land se top smaakmakers. Mense soos ‘Wyn vir die pyn’ en ‘Mel die storieverteller’.
Met respek aan al die suksesvolle smaakmakers, soms is dit so banaal jy wonder oor die mensdom se intellektuele gesondheid.
Dan kry jy verskilmakers.
Daar is nie groot toekennings vir verskilmakers nie.
Hulle werk in stilte.
Hulle verwag nie erkenning nie.
Hulle verwag nie toekennings nie.
Nie publisiteit nie.
Hulle is nie net verskilmakers nie, hulle is ook doeners.

Steven Pieterse. Hy vertel verlede week terloops van Harold Volbrecht se bokskryt wat hy in Boksburg gekoop het. Met groot moeite is die kryt na Middelburg vervoer en hier opgeslaan. ’n Boksgimnasium is ingerig en nou boks die jeug dat jy net harpuis ruik. Boonop word hulle van die straat af gehou. Sy pa, Happy, was ’n Suid-Afrikaanse bokskampioen wat vandag trots sou wees op sy seun se betrokkenheid by die sport. Een van die junior boksertjies is ’n weeskind wat sy pad oopgeveg het na die Suid-Afrikaanse kampioenskappe.

Henk Wessels. Besef Middelburgers dat die Kees Taljaard sportkompleks in ’n hool gaan verval wat veral Kanonkop inwoners se eiendomswaarde ’n knou sal gee? Wessels het opgestaan om getel te word en is bereid om die sukkelende Middelburg Rugbyklub weer na sy ou glorie te lei. Hy rig ook die Hommels, Hoërskool Middelburg, se tweede span af en is by die boks betrokke.

Rudi van Wyk. Hy stap voor by die Erfenisvereniging en doen reuse werk om ons dorp se geskiedenis te bewaar. Hy sal gou sê dit is sy komitee en Theo Ligthelm se hulp. Dit is die ding, iemand moet die leiding neem.
Deur die Erfenisvereniging se entoesiasme kan ons ’n groot aantrekkingskrag wees vir geskiedenisliefhebbers. Die toere wat reeds hier aangebied is was ’n reuse sukses.

Johan Strydom. Die hoof uitvoerende beampte van Columbus Stainless maak op ’n verskeidenheid gebiede ’n verskil. Soms waar dit nie eens van hom verwag word nie. Die grootste saamtrek van joernaliste vind jaarliks by Olifants River Lodge plaas. Hy doen moeite om die saamtrek by te woon. Sy werk by die Middelburg Buiteklub en Middelburg Kamer van Koophandel is oorbekend, asook sy bydrae in die staalbedryf.

Jaap Beyers. Die dorp sal armer wees sonder Jaap en sy vrou Elmien. Verskilmakers by uitstek. Hy het Hoërskool Middelburg se terrein in ’n lushof omskep, gehelp dat die Cravenweek suksesvol aangebied word en is nie net voorsitter van die skool se beheerliggaam nie, maar ook van die Middelburg Fietsryklub.
Judy van Deventer. Die vrou agter die Leef Liefde-organisasie het al duisende mense kos gegee en ’n veilige hawe vir haweloses geskep.

André Brandmuller. Die dryfveer agter die Middelburg Care Village het nog genoeg energie oor om pa te staan vir die Care Riders en die Early Riders. Hy loop groot spore in sy pa Peter se nalatenskap.

Hennie Niemann. Ja, hy kry ’n salaris as raadslid, maar kiesers in sy munisipale wyk sal getuig hoe groot verskilmaker hy is deur die ekstra myl te loop vir inwoners.
Ken jy ’n verskilmaker?
…….voeg sy naam hier in.
Is jy ’n verskilmaker?
…..voeg jou naam hier in.
