News

Landcruiser jaag oor motorfiets, man sterf

’n Motorfietsryer is Maandagaand voor die oë van insleepdienste personeel doodgery.

‘n Getraumatiseerde Louwtjie Swart, van Louws Towing & Recovery, het gesien hoe ‘n Landcruiser oor ‘n motorfiets ry, die slagoffer het kort daarna gesterf.

“Dit was lelik…dit was baie lelik…” het hy vanoggend aanmekaar gesê, na die gebeure laasnag op die hoek van Cowen Ntuli- en Lilian Ngoyistraat.

“Hulle het daardie jong man getrek aan sy bene en nek tot in die Landcruiser, en hy het daar gesterf!”

Volgens Louwtjie was die jong motorfietsryer vooraf ook in ‘n ongeluk betrokke in Samora Machelstraat.

Louwtjie vertel dat hy om 22:45 deur ‘n vroue kennis geskakel is.

“Sy het gesê daar is ‘n motofietsongeluk op die hoek van Samora Machel- en Aquarmarinestraat.”

Louwtjie het na die toneel gejaag, maar het net motorfietsparte op die toneel gekry. Hy het heen en weer geloop, maar kon geen verdere tekens van die motorfiets kry nie. “Sy het gesê hulle moet daar wees, want die motorfietsryer het seergekry.

Louwtjie het gedink hulle is dalk op pad na die hospitaal en het in daardie rigting gery.

Niks kon hom voorberei op wat minute later voor sy oë afgespeel het nie.

Twee voertuie, ‘n Landcruiser en ‘n Toyota Hilux, het in Cowen Ntulistraat afgery, met die motorfiets voor hulle.

“Die volgende oomblik het die Landcruiser bo-oor die motorfiets en die motorfietsryer gery!” Hy het ook gesien hoe die Toyota Hilux van die toneel af wegjaag.

Die ongelukstoneel waar daar laasnag bo-oor ‘n motorfietsryer gery en hy later in ‘n Landcruiser gesterf het. Foto: Verskaf. (Kentekens op voertuig is verwyder, omdat daar tans ‘n polisie-ondersoek is).

Louwtjie het die laaste paar meter tot by die toneel gejaag, maar wat verder gebeur het, sal hom nog vir nagte wakker hou.

Hy het gesien hoe die bestuurder van die Landcruiser uitklim en na die motorfietsryer loop.

“Ek het gehardloop na die Landcruiser om die sleutel uit te haal sodat die Landcruiser nie kan wegjaag nie.”

Die oomblik toe hy terugdraai, was hy geskok om te sien hoe die bestuurder van die Landcruiser, met die hulp van ander mense op die toneel, die ernstig beseerde motorfietsryer aan sy voete en nek uit die pad begin sleep.

Louwtjie het opgemerk dat die jong man nog asemhaal en het teen daardie tyd reeds ER24 ambulansdienste gekontak.

“Ek het vir hulle geskree hy leef nog, hulle moet hom los, dit gaan sy lewe kos, maar hulle het op my geskree en hom ingesleep in die Landcruiser in! Sy bene was nog nie heeltemal in die Landcruiser nie, maar hulle het die deur teen sy bene toegeslaan!”

Louwtjie het alles probeer om hulle te keer en het selfs een man geklap wat in sy pad was, maar hulle het hulle nie aan hom gesteur nie.

“Dit was soos ‘n rolprent, maar dit was erger, want hierdie was die werklikheid!”

Op hierdie tydstip het die brandweer op die toneel gestop en kon die Landcruiser nie ry nie.

Sekondes later het hulle gesien dat die motorfietsryer in die Landcruiser gesterf het. “Hierdie was nie ‘n ongeluk nie, dit was moord! Hy kon geleef het as hulle hom nie so gesleep het nie,” het hy ontsteld uitgeroep.

Noodpersoneel staan by die Landcruiser waarin die motorfietsryer gesterf het. Foto: Verskaf. (Kentekens van die maatskappy op die voertuig is verwyder, omdat daar ‘n polisie-ondersoek is).

Louwtjie het gemeld dat ‘n motoris die Toyota Hilux agterna gesit het en in Bonckerstraat vasgekeer het. Beide die bestuurder van die Lancruiser, asook die twee persone in die Hilux is gearresteer.

Tydens die eerste ongeluk in Samora Machelstraat is die Landcruiser se voorwiel erg beskadig, maar die voertuig het so aangehou ry tot die tweede ongeluk in Cowen Ntulistraat.

Louwtjie het ‘n video op die toneel geneem, wat hy aan die polisie oorhandig het. Hy en die vrou wat die eerste ongeluk gesien het, het ook aan die polisie vertel wat gebeur het.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button