Vriendelike oom Jannie wat wors langs die pad vir Loskopatlete uitgedeel het, oorlede
Oom Jannie Nortman het ’n warm persoonlikheid gehad en het hy met almal oor die weg gekom.
Die legendariese oom Jannie Nortman (84) wat altyd saam met ander boere wors gebraai het vir die atlete wat aan die Loskopmarathon deelgeneem het, is op 21 Augustus oorlede.
“Ons het nog sy 85ste verjaardagpartytjie beplan vir 14 September,” het sy gesin hierdie week hartseer gesê.
Oom Jannie het in die week voor sy dood sy rug seergemaak en het hulle vir hom pynpille by die dokter gekry.
Etlike dae later het hy vir hulle gesê hy voel ongemaklik en wou nie meer eet nie. Twee dae later, die aand van 20 Augustus, het hy nie lekker gevoel nie en het gekla van pyn op die linkerkant van sy lyf.
Kort na middernag was hy steeds baie ongemaklik en is omstreeks 01:00 in hul huis op die plot oorlede.
Oom Jannie se kinders vertel hoe hulle en vriende een jaar langs die pad gestaan en wors braai het. Van die atlete het gevra vir ’n stukkie wors en het hulle dadelik vir hulle uitgedeel. Daarna het dit ’n jaarlikse instelling langs die pad, net na die Banke Boeresaal, geword om stukke wors vir die atlete te braai en uit te deel. “In 2019 het ons 30kg wors gebraai!”
Oom Jannie was natuurlik altyd daar om die atlete aan te moedig en moed in te praat as hulle vir ’n minuut of wat gestop het om asem te skep. Motorfietsryers het ook ’n worsie gekry en het dan weer verder saam met die atlete gery.

Oom Jannie is gebore in Primrose, Germiston in 1940. In 1948 is hy as agtjarige saam met sy gesin opgeneem in die Ou Apostoliese Kerk.
Later verhuis hulle na Namibië en het hy altyd gesê hy wil nog eendag teruggaan soontoe.
Hy keer terug na Primrose en in 1963 verhuis hy na Bethal waar hy vir Meraai ontmoet het. In 1964 is hulle getroud en het hulle verhuis na Middelburg, waar Jannie al die jare gewerk het by verskillende besighede in die dorp.
In 1998 het hy die plot gekoop waarvan hy altyd gedroom het en het sy hele gesin en hul families, al vier die geslagte, ook op die plot kom bly.
Hulle onthou hom as ’n warm, hartlike persoon, wat met almal oor die weg gekom het.
Oom Jannie word oorleef deur sy vrou, Meraai, kinders Chris, Alta en Hans, skoonkinders Nicola, Christopher en Lizel, kleinkinders Dylan, Michelle, Stèhan, Louise, Roedie, Christa, Ferdi, Leray, Janke, Unè en Pieter en agterkleinkinders Milan, Liam, Daniel, Dihan, Noah en Leanke.
’n Roudiens word Saterdag om 11:00 uit die Ou Apostoliese Kerk, waar hy ’n priester was, gehou.

- ’n Hudeblyk oor oom Jannie sal in die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer verskyn.
