News

Bulhond Nel se kake gehaak om mesmoord

Privaatvervolgingseenheid genader na ouma se moord.

Advokaat Gerrie “Bulhond” Nel laat nie gras onder sy voete groei nie.

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid is verlede week ’n mandaat gegee deur die vermoorde ouma Johanna Mlangeni se familie, om die polisie ondersoek en vervolging te oorsien.

Nel het reeds die eerste salvo gevuur met ’n brief aan die plaaslike senior staatsaanklaer, om antwoorde te werp oor hoekom Mlangeni se beweerde moordenaar vrygelaat is sonder om ’n moordklag in die gesig te staar.

Johanna is op 31 Julie op pad werk toe in Cowen Ntulistraat met ’n mes doodgesteek.

Haar moordenaar was na bewering in ’n verhouding met haar, en die twee het volgens familie daagliks saam van Doornkop af Middelburg toe gereis vir werk.
Die motief vir haar grumoord is tans nog onduidelik.

Weens ’n gebrekkige polisiedossier is daar besluit om nie die saak op die hofrol te plaas nie, en Johanna se beweerde moordenaar is vrygelaat.

Die dossier is terugverwys vir verdere ondersoek, ten spyte daarvan dat die verdagte op die moordtoneel deur lede van die publiek gevang is, en die beweerde moordwapen ook op die toneel gevind is.

Nel en sy span tree pro bono vir Johanna se seun Charles op, noudat die polisie en aanklaers vingers na mekaar wys, oor hoekom die verdagte laat gaan is.

Die verdagte is hof toe vervoer, maar omdat die polisiedossier nog glad nie hofgereed was nie, is die seldeur vir hom oopgeswaai.

In ’n sterkbewoorde brief sê Nel dat sy vervolgingseenheid daarop ‘frons’ dat die verdagte laat gaan is, sonder ’n borgaansoek op ’n klag van moord, waartydens die sake gebruiklik uitgestel word vir verdere ondersoek.

Nel sê dat dit skreiend is dat die verdagte gedurende nasionale vrouemaand, nie vir ’n skedule 6 misdaad aangekla is nie, en noem die gebeure rondom sy vrylating ‘gewetenloos.’

Die Bulhond sê dat sulke optrede, deur beide die polisie en hof, vetroue in die regsisteem laat wegkalwe.

Nel baseer sy kritiek op die feit dat howe moontlik meer gewig plaas op redes hoekom sake nie op die hofrol geplaas word nie, instede van geregtigheid voor te staan. Hy meen dat statistieke nagejaag word, en dat hy hoop hy sal verkeerd bewys word in Johanna se geval.

Volgens Nel behoort daar beter tussen aanklaers en polisielede gekommunikeer te word, voordat ’n saak bloot op tekortkominge in die dossier, nie die hofrol maak nie.

Nel sê dat die verdagte nou wegkomkans gebied is, en moontlik die gereg kan ontduik.

Die onus berus nou by die nasionale vervolgingsgesag om die saak te vervolg, sê Nel, en hy doen ’n beroep op die plaaslike howe om ’n J50-lasbrief uit te reik en die verdagte te arresteer.

Dié verantwoordelikheid lê nie by die polisie wat die verdagte gearresteer en van moord aangekla het nie, maar by die vervolgingsgesag, motiveer Nel.

Die polisie het instussen bevestig dat die verdagte nog nie weer gearresteer is nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button