News

Wit kruis al wat oorbly van Meyerstraat tragedie

Mag klein Janeke Brink se dood nie vergeefs wees nie.

Die blommetjies is al weggewaai, die ruikers lankal weg, al wat oorgebly het is ’n groot wit kruis en vergeelde fototjie van Janeke Brink.

Die sewejarige dogtertjie is op 17 Junie 2025 in Meyerstraat deur ’n swaar vragmotor getref, terwyl sy besig was om die besige straat met haar fiets oor te steek.

Intussen in die straat se beskadigde oppervlak naby Proteastraat oorgeteer, wat dié trok resiesbaan gevaarliker as ooit maak.

Soos dit altyd met hierdie tragedies gaan, is daar ’n oproer en dan ’n doodse stilte.

Kort na die tragedie is ruikers en blomme op die plek neergesit waar Janeke gesterf het. Foto: Gerhard Rheeder.

Janeke is nie die eerste kind wat in Meyerstraat doodgery is nie.

Dit is ook nie die eerste tragedie nie.

Met alle vorige gevalle was daar woede uit die gemeenskap wat op niks uitgeloop het nie.

Op Woensdag 24 November 1982 is die vyfjarige Wynand de Bruyn ook in Meyerstraat reg voor die Middelburg Observer-kantore doodgery deur ’n munisipale trok.

Hy het die oggend voor die koerantdrukkery met sy hond gespeel.

Klein Wynand het by sy oupa, HJB Maree, in Meyerstraat 38A gekuier.

Toe die swart langhaar hondjie oor die straat hardloop, is Wynand agterna.

Hy is in die straat doodgery.

Twee trokke het ook voorheen voor die koerantkantore reg van voor gebots. Een persoon het gesterf en een is verlam gelaat.

Die slag was so oorverdowend dat joernaliste gedink het ’n bom het ontplof.

Betta Muller is ook in die Meyerstraat kruising met die destydse President Krugerstraat in haar Mercedes deur ’n swaar vragmotor getref, waar sy gesterf het.

Intussen raak die verkeer al meer druk in die straat en is motoriste in doodsgevaar met swaar vragmotors wat vanaf Stoffberg deur die kruising met Beyers Naudestraat jaag.

Mag klein Janeke Brink se dood nie hierdie keer tevergeefs wees nie…

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button