Die Bullring is gereed vir eindstryd rugby.
Die rooi bul is blink gevryf, die veld is netjies gemerk, die kleedkamers is skoon, daar is genoeg warmbrakke om ’n weermag te voed en die room van skolerugby is op pad na Middelburg.
Tussen die euforie van die HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg se eerstespan wedstryd is die glans so bietjie gesteel by Middies se o/16 span.
Moenie ’n fout maak nie, dit is vir die skool aan die westekant van Johan Magagulastraat, ’n reuse pluimpie dat nie net sy eerstes nie, maar ook sy jongelinge in die eindstryd speel.
Dit voorspel ’n blink toekoms vir Middies.
Die ou jakkals wat al seker meer spanne afgerig het as wat hy ontbyt geëet het, Buks Botha, was die week vol planne. Hy was tipies van die ou ervare afrigters soos Jake White halsstarrig om sy o/16 span se name bekend te maak, voor die kragmeting teen Oos-Moot van Pretoria.
Geen wonder nie, want die laaste keer toe ’n span uit die stad hier kom speel het, het hulle plakkate gespot dat Homer Simpson ons skole afrig.
Wanneer die wedstryd om 11:20 by HTS Middelburg se veld afskop, sal hulle gereed wees vir die aanslag.
Sal dit nou nie lekker wees om twee wenspanne die dag op te lewer nie?
Dit is mos reeds ’n uitgemaakte saak dat Middelburg een wenner gaan hê, of dit nou groen of rooi is.
Veral ook omdat die twee legendariese skoolhoofde, Dolf Jonker en Johan Stronkhorst, onder die toeskouers gaan wees.
En dink maar aan die twee eerstespan afrigters, Jano Venter (Rooies) en Coené Nolte (Middies). Die twee moet sekerlik onder geweldige druk wees om die beker te wen.
Kaartjies kos R50 vir toegang en R50 vir parkering en daar word net met ’n kaartmasjien betaal.
Saterdag se eindstryde van die Noordvaal plaatafdeling se program is:
9:00 o/14 Wesvalia vs Kemptonpark.
10:10 o/15 Oos-Moot vs Zwartkop.
11:20 o/16 Hoërskool Middelburg vs Oos-Moot.
13:30 Eerstes HTS Middelburg vs Hoërskool Middelburg.
