News

Oorwinnaars sluit sy deure stil-stil

Strate wemel van jong mense met dooie dwelmoë.

Die Oorwinnaars-projek bestaan nie meer nie…

Die huis waar dwelmverslaafde mans gerehabiliteer is, het stil-stil sy deure gesluit.

Pastoor Jannie Jacobs het die week kripties geantwoord: “Ja, Oorwinnaars bestaan nie meer nie.”

Hy wou nie verder uitwei nie.

Daar word verneem dat pastoor Jacobs hom deesdae in Johannesburg bevind.

Die sluiting van die Oorwinnaars-huis is waarskynlik een van die redes waarom Middelburg se strate deesdae wemel van bedelende jong verslaafdes.

Pastoor Jacobs was die voorste kampvegter teen dwelms op die dorp.

Hy het verslaafdes eers by sy huis in Gholfsig bygestaan en later na ’n plaas op die Stoffbergpad uitgewyk.

Sy streng metodes, soos dat selfs sigarette taboe was, het dikwels kritiek ontlok, maak sy suksesverhaal was daar vir almal om te sien.

Talle jong mans het ’n tweede kans op lewe gekry by Oorwinnaars.

Nadat hy die liggaam van ’n dwelmverslaafde in die lykshuis gaan uitken het, het hy gesê:

“Dit het gelyk of hy in pyn was voor hy dood is. Dit blyk dat hy ten minste twee dae in die veld gelê het, want die vinger aan sy linkerhand is reeds deur rotte gevreet.”

Past. Jacobs het gesê hy wens hy kon vir alle jong mense, wat met dwelms wil eksperimenteer, van die hartseer prentjie vertel.

“Net één keer se gebruik is te veel, want net dalk kan jy in ’n veld opeindig, sonder jou mense en eers twee dae later gekry word.”

Hy het hom sterk uitgespreek teen mense wat vir dwelmverslaafdes geld gee en het bedelaars self op straat getoets.

“Verslaafdes by verkeersligte lieg en lei Jan Publiek om die bos. Jy koop indirek vir hom dwelms en is daarom saam verantwoordelik as hy sterf aan ’n oordosis.

“Wanneer ek ’n persoon by ’n verkeerslig sien, vra ek hom of hy dwelms gebruik, hulle antwoord altyd ‘nee’. Sodra ek die dwelmtoets uithaal, wil hulle nie toets nie. Daarna erken hulle dat hulle dwelms gebruik. Ek nooi hulle om by my te kom woon en verduidelik die reëls. Van hulle kom en word gesond. Sommiges loop weg na ’n dag of drie. Volgens hulle is dit ‘te moeilik’. Ander bly op straat, want hulle word van geld voorsien. Dit is net te maklik vir hulle om op straat die dwelmdraak te voed.

“Een persoon het selfs gespog dat hy Kersdag R1 200 ingesamel het en selfs 25 persent afslag by sy dealer gekry het, vir die groot hoeveelheid dwelms wat hy gekoop het!”

Pastoor Jacobs het in baie gevalle al die kostes van begrafnisse gedra, nadat verslaafdes weens ’n oordosis gesterf het.

Hy het sy liefdeswerk uit Jesaja 58:7 regverdig: “Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?”

“Ek tree op in gehoorsaamheid aan God.”

Maar nou is die huis waar tot 12 verslaafdes op ’n slag behandel is toe…

…en die strate vol verwaarloosde, bedelende, jong mense, wat sommer op straat die naald in hulle are druk vir ’n fix…en dalk die dood….

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button