News

Dalk laaste van die Curriebeker

Groot franchises het aptyt vir kompetisie verloor.

Die einde van die Curriebeker soos ons dit ken.

Die 2025 seisoen is waarskynlik ’n skeidingsjaar vir die tradisieryke kompetisie, die oudste provinsiale kompetisie in die wêreld.

Die Curriebeker was die eerste keer in 1892 op die spel.

Die Blou Bulle president, Willem Strauss, het waar woorde gespreek toe hy gesê het die uitslae van wedstryde in die Curriebeker-reeks is nie goed vir die handelsmerk van die verenigde rugby kampioenskap franchises nie.

Die gespot en hoon wat die Bulle se afrigters en spelers die laaste paar weke moes verduur is net verdere olie op die vuur.

Ongelukkig is Suid-Afrikaanse rugby ondersteuners so oningelig soos ’n slak in ’n kaasfabriek.

Die naweek se Bulle nederlaag teen die Leeus het dit weer beklemtoon.

Leeu ondersteuners wat die laaste paar jaar hiberneer, het skielik uit hulle gate geklim om die Bulle se nederlaag van 44-5 te vier.

Vir hulle is dit ’n reuse oorwinning.

Jy kan maar verduidelik die Bulle speel met o/21’s, berei voor vir die verenigde rugby kampioenskap, jy kan vertel dat spelers net ’n sekere aantal wedstryde per jaar mag speel en jy kan doen wat jy wil, maar vir hulle is dit Curriebeker en hulle verlekker hulle in so groot oorwinning.

Willem Strauss met die eens gesogte Curriebeker. Foto: Verskaf.

Boonop het die Bulle in die VRK eindstryd gespeel wat hulle voorbereiding verder bemoeilik.

Hulle fokus is op die verenigde rugby kampioenskap en Investec kampioene beker en nie op ’n afgewaterde plaaslike kompetisie nie.

Feite staan nie in die oningeligtes se pad nie.

En die feite is spelers mag nie meer as 32 wedstryde vanaf 1 Julie tot 30 Junie speel nie en word beperk tot 2 400 speelminute per speler.

Die 32 wedstryde sluit alle amptelike kompetisies in soos die VRK, Investec kampioene beker, EPCR uitdagbeker en Curriebeker, Springboktoetse en ander Bokwedstryde.

Die Leeus se spelers het byvoorbeeld Saterdag tyd begin versamel teen hulle maksimum kwota wat later die seisoen teen hulle kan tel.

Die beperking is ingestel om uitbranding en beserings te verhoed.

Die Westelike Provinsie, Haaie en Bulle is nie verniet die laaste drie spanne op die punteleer nie.’

Hulle spaar spelers vir die groter kompetisies.

Daar is beslis tussen die groot franchises geen aptyt meer vir die Curriebeker nie.

Soos Strauss tereg sê, ”iets sal moet meegee”.

Dit kan nie weer soos in 2025 nie.

Laat Stellaland, Noordoos Kaap, Suidoos-Transvaal, Oos-Transvaal, Verre Noord-Transvaal se amateur spanne dan maar teen die groter unies se amateur spanne vir die Curriebeker speel en vat rugby weer na die platteland.

Die 2025 seisoen mag nie weer herhaal word nie.

Dit is nie net ’n klad op die groot franchises se handelsmerk nie, maar op die rugby handelsmerk.

Ja, en die Bulle se bestuur, die manne wat die ghitaar slaan, moet ook blaam dra.

Hulle het die Curriebeker span en sy afrigters met ’n ghitaar sonder snare na die show gestuur.

En nou sit hulle met ’n vals noot.

Die Cheetahs het die naweek met 40-10 teen Griekwas verloor, die WP is met 13-39 deur die Pumas afgeransel en kon nog nie ’n wedstryd wen nie en die Boland het met 33-31 teen die Haaie in die laaste sekondes vasgeval.

Eerskomende naweek sal bepaal watter spanne speel in die halfeind.

Griekwas is bo aan die punteleer met 25 punte gevolg deur Boland met 23, Leeus en Cheetahs 21, Pumas, 20, Bulle 10, Haaie 10 en WP 1.

Die Pumas speel Vrydagaand 19:00 weg teen die Haaie, die WP pak die Boland Saterdag 14:45 tuis, die Leeus en Griekwas is om 17:00 slaags in Johannesburg en om 19:00 speel die Bulle op Loftus teen die Cheetahs.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button