Breyton Paulse maak seker wawiele oor sy Toks en Tjops, of is dit Toks en Flops?-span se traagheid in die groot Munga-uitdaag.
Die span, met Paulse aan die spits, het met groot bravade ander spanne op sosiale media uitgedaag, vir die Munga equipe bergfietswedren wat later die jaar vanaf Bloemfontein na die Wes-Kaap aangebied word.
Alles vir liefdadigheid.
Maar nou is dit meer afTjops as Toks en Tjops.
Groot name, ja groot, soos Bakkies Botha en Jannie du Plessis is genoem om die Vlok Skopstigting en Middelburg se Care Riders aan te durf.
Nog ’n oud rugbyspeler, Tobie Oorlog Oosthuizen, se naam is ook genoem.
Oorlog het intussen van die veldslag af verdwyn en die Toks en Tjops span is soos ’n bergfiets met twee papwiele.
Die span van Vlok Cilliers, die Franse rugbyspan se skopafrigter, kook.
Hy het die ander spanne uitgedaag om die kilometers op te stapel voor die einde September.
Haai siestog, Paulse se span staan op ’n skamele 357 kilometer op 31 Augustus 2025.
Die Care Riders het 3 650 kilometer afgelê en VlokSkop is op 3 642km.
Ian Jordaan dra die vaandel van Cillliers se span met 341km, Willem Mouton op 319 en Cilliers self wat al 287km afgetrap het.
Die man wat bekend is dat hy die kilometers soos ’n bord boerekos eet, PC Nell, is die voorste ryer vir die Care Riders met 343km, Lukas van Rooyen op 221 en Willie van Straaten wat 212 op sy kerfstok het.
Die VlokSkop span neem volgende week aan die Race to the Sea deel wat 160 kilometer vir elke spanlid is waarborg.
Dit gaan moeilik wees om Vlok hierna te klop.
Soos ons Middelburgers ken gaan hulle nie nou al sê ‘O Vlok!’ nie.
Verwag ’n reuse stryd voor 30 September.
En miskien, dalk net miskien, help Paulse se wawiele.
