Geen wonder ouers van reg oor die land wil hulle kinders hier laat skoolgaan nie.
Daar is darem net een burg en dit is Middelburg.
Die kragmeting Saterdag tussen HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg het dit bewys.
Dit was superieur in die oortreffende trap.
Die pawiljoene was gepak, die gees was kookwater, die reëlings puik en dit was so mooi gebaar om die twee oud skoolhoofde Dolf Jonker en Johan Stronkhorst uit te nooi.
@middelburgobserver Hoër Tegniese Skool Middelburg voor die Midvaal plaatfinaal teen Hoërskool Middelburg Saterdag. Die skool het die pawiljoen se dak gelig met hul aansteeklike dreunsang, en hul eerstespan aangespoor tot ’n kragtige oorwinning. Video: Tobie van den Bergh
Net so spesiaal was dit om te sien hoe skryf Malem van Heerden van HTS en Middies se JJ Hennop ’n nuwe hoofstuk in die dorp en skole se geskiedenis.
Middelburg se skole is nie net opvoedingsinstelling nie, hulle is dorpsbates.
Mnr. Van Heerden moes seker gevoel het hy staan op die Titanic se dek toe hy by HTS Middelburg aanmeld.
Saterdag moes dit hom groot genoegdoening verskaf het om te sien hoe wen HTS 19-11 teen sy ou aartsvyand en hoe word die pawiljoene in ’n see van rooi, blou en wit verander.
Op die einde was Middelburg egter die groot wenner van ’n stylvolle dag, sonder venyn.
Dit was so mooi, so baie mooi.
