Wat het gebeur toe die koei, fietsryer en Sixty60 ontmoet?
Moééénie hierdie Care Riders onderskat nie…
Wat het die koei gesê toe die fietsryer in haar vasry? “Moéééé…”.
Weet nou nie of dit “moééése seer” of “moééé…nie” was nie.
Lesers sal dalk dink hierdie is ’n gertgrootlieg storie.
Hoe is dit moontlik dat Checkers se Sixty60 afleweringsmotorfiets, twee koeie en Corné Ferreira op sy fiets mekaar in ’n woonbuurt ontmoet?

Hy vertel self.
“Ek het een oggend so draai om Dennesig en Kanonkop gery. Teen Verkenner af het ek nog gesien my spoed is hier 52 kilometer per uur.”
Dit is toe waar die papaja die waaier tref… of die fiets die koei…
Daar waar Verkenner- en Helen Josephstraat by mekaar aansluit, was ’n Sixty60 afleweringsmotorfiets op pad wat regs wou draai.
“Ek het my oog op hom gehou, want dit het gelyk asof hy voor my gaan indraai.”
En toe gebeur dit…

Twee koeie het doodrustig voor hom oor die pad geloop.
“Een van die koeie het gebokspring in die middel van die pad, ek het haar teen die nek getref.”
Corné het gat oor kop in die pad neergeslaan met sy helmet wat teen die teer skuur.
Terwyl die verskrikte koeie die veld ingevlug het, het Corné dronk-dronk sy fiets uit die pad getrek en op die sypaadjie gaan sit, waar die verskrikte Sixty60 man bekommerd na sy welsyn verneem het.
Hy het dadelik gevoel sy skouer is beseer en ’n dokter het later bevestig dat hy ’n ligament geskeur het en ses weke van die saal af moet bly.

Sedertdien word net een koei in die omgewing opgemerk.
Die ander koeie het waarskynlik vir ou Blommie gesê “moééénie weer oor die pad loop nie.”
Corné is een van die entoesiastiese Care Riders wat aan die Munga bergfiets wedren deelneem.
Sy mede-trappers het die naweek groot respek vir hom gekry.
Toe hy Sondagoggend opstaan en sien die VlokSkop-span is 200 kilometer voor die Care Riders in die groot Munga kilometer uitdaag, het hy op sy fiets gespring en begin trap.
Eers 52km en toe weer 50km…
Wys jou net; moééénie ’n Care Rider onderskat nie…

