Bernard Blunden is ’n Middie in murg en been
Afrigter loop lang pad van Kragveld na Noordvaal eindstryd.
’n Middie in murg en been.
Noem die naam Bernard Blunden en jy sien net groen, alles groen.
Hoe dan anders?
Dié afrigter van Hoërskool Middelburg se eerstespan is ’n volbloed Middie.
Mens kan seker sê sy loopbaan het volsirkel gekom, as die sirkel voltooi was, maar hy is nie.
Die sirkel gaan nog aan en aan…
Kom ons begin by die begin.
Laerskool Kragveld, waar hy nie net twee jaar vir die eerstespan speel nie, maar ook hoofseun van die skool is.

By Hoërskool Middelburg draf hy vir die o/14A en o/15A spanne uit en was net 15 jaar oud toe die legendariese Hennie Fensham hom nadertrek vir die eerstes, waar hy drie wedstryde speel.
Hy speel drie jaar vir die eerstes, 1984, 85 en 86.
By die destydse Normaalkollege Pretoria speel hy vir die o/20 A-span en in 1988 vir die tweedes.
Sy klubrugbyloopbaan lei hom na Middelburg Rugbyklub, Bethal, Roodepoort en Krugersdorp se Kavaliers.
As afrigter druk hy gou sy stempel af en rig Noordheuwel se eerstes af in 1998 en 99.

Daarna is dit terug na Middelburg om Steelcrest se o/16 A span te brei en in 2019 die Pumas o/16 Platteland en 2023 die Puma o/18 Platteland.
Middies se o/16 span word in 2023 deur hom onder hande geneem. Die span speel in die eindstryd van die Noordvaal reeks en wen ’n silwer medalje.
In 2024 en 2025 rig hy die gesogte Puma Grant Khomo (o/16) span af.

Die silwer medalje van Saterdag se Noordvaal eerstespan eindstryd en ook die 2023 o/16 naaswenner medalje beskou hy as twee van sy laagtepunte.
Sy afrigters filosofie? “As ek elke dag leer en verbeter maak dit ’n impak op die mense rondom my se lewe. Never give up. Reach for the stars if not, fall on the clouds. Dream it to achieve it.”
Die hoogtepunte in sy loopbaan? “Elke dag is ’n hoogtepunt. Elke rugbyspeler wat oor die jare oor my pad gekom het. Om spelers as afrigter te sien ontwikkel is ook ’n hoogtepunt.”

