Man pluk pistool uit in padwoede
In wat blyk padwoede te wees, het 'n man 'n wapen uitgespluk en op 'n vrou geskree, nadat hyself eintlik die verkeersreëls oortree het.
‘n Man het vanoggend ‘n pistool uitgepluk en rondgeswaai toe hy hom vererg het vir ‘n vrouebestuurder.
Die vrou, wat verkies om anoniem te bly, sê wat haar die meeste ontstel is dat daar ‘n kind langs die man in die voertuig gesit het tydens die gebeure.
Sy vertel dat sy vanoggend in Meyerstraat vanaf die Middelburg Stasie se kant af opgery het Kanonkop se kant toe.
By die Meyerstraat en Beyers Naudestraatkruising het sy en nog ‘n ander voertuig gewag om reguit oor te ry. Sy het opgemerk dat ‘n voertuig in die linkerbaan, wat net ‘n draaibaan is, gestaan en wag het.
Die oomblik toe die lig groen slaan het sy en die ander voertuig vorentoe gery, waarop die ander voertuig vanaf die linkerbaan voor hulle probeer inswaai het. “Ons moes almal skielik rem trap om nie ‘n ongeluk te veroorsaak nie!”
Die manspersoon wat in die verkeerde baan was, moes noodgedwonge ‘n paar sekondes wag dat die ander voertuie oor die verkeerslig beweeg, voordat hy ook kon oorry.
By Proteastraat het die vrou links gedraai en haar flikkerlig aangesit om regs te draai in Springbokstraat. Sy moes egter ‘n rukkie wag vir aankomende verkeer.
Sy het egter skielik uit die hoek van haar oog gesien die man beduie vir haar en het hy hard geskree: “I will f&@$n kill you!” Sy het ook duidelik gesien hoe hy ‘n pistool te voorskyn bring en dit rondswaai.
Uit pure skrik en ontsteltenis het sy teruggeskree: “I am not scared!” waarop hy nog beduie het en links afgedraai het in Springbokstraat.
“Daar was ‘n skoolkind by hom in die voertuig en ander motoriste het ook gesien wat gebeur!” het sy omgekrap gesê.
