Advokaat Gerrie Nel en sy kampvegters by seminaar
Privaat vervolgingseenheid sorg dat geregtigheid geskied.
Op 23 Maart 2019 was die Middelburg Observer se Gerhard Rheeder toeskouer van ’n grusame ongeluk in Cowen Ntulistraat.
Daar was algehele verwoesting.
Twee vroue bid hande omhoog by die ongelukslagoffer.
Liezel Visagie het oomblikke tevore haar dogter uit die pad gestamp, maar is deur ’n voortspoedende BMW getref.
Haar been is deur die impak afgeruk.
Die BMW bestuurder, Kumbulani Malinga, probeer van die toneel af vlug, maar word gearresteer.
Maandagoggend sit ek en Gerhard in Marie Hamman se huis.
Sy is gebroke.
Liezel was haar dogter.
“Toe ek die bloedstreep in die hospitaal sien, het ek geweet my Liezeltjie kan nie meer lewe nie.”

Sy staan nie net haar dogter aan die dood af nie, maar verloor ook haar kleindogter, wat na die ongeluk oorsee is.
Malinga het daardie noodlotsoggend soos ’n besetene deur die dorp gejaag, met verkeersmanne agterna.
Hy is oor vier verkeersligte voordat hy Liezel getref het.
Middelburg Observer redaksielede sidder toe hulle hoor Malinga is vrygelaat “want daar word gewag vir sy bloedalkoholtoetse”.
In ’n land waar forensiese laboratoriums jare agter skedule is, sou daardie toetse waarskynlik nooit gedoen gewees het nie.
Malinga was oornag weer ’n vry man.
Al het hy skokkend roekeloos deur die dorp gejaag en Liezel Visagie so hard getref, dat haar been meters ver weggeslinger is.
Joernaliste was magtelose toeskouers van hierdie onreg.

Maar toe onthou ons die redaksie se leuse, “as een deur toegaan maak jy ’֦n ander een oop en as daardie een nie oopmaak nie, skop jy hom oop” .
Daardie deur was AfriForum se privaatvervolgingseenheid met advokaat Gerrie Nel aan die stuur van sake.
Advokaat Phyllis Vorster, van die eenheid, het uit haar pad gegaan om geregtigheid vir Liezel te kry.
Malinga pleit skuldig op aanklag van strafbare manslag.
Die Middelburg Observer druk ’n groot foto van Liezel af wat Marie vashou terwyl sy ter verswaring getuig.
Landdros Andreas Masteroudes vonnis Malinga tot agt jaar gevangenisstraf, drie jaar word opgeskort vir vier jaar.
Sy bestuurderslisensie is ook vir 12 maande opgeskort.

Hierna volg een na die ander sukses met die AfriForum privaatvervolgingseenheid aan die spits.
Nou kom advokaat Nel Vrydag tydens die No Guts No Story No Glory-seminaar by Olifants River Lodge praat oor, “Collapsed criminal justice system: The roll of community press.”
Dit is die grootste saamtrek van joernaliste in Suid-Afrika en advokaat Nel bring ook nege van sy kampvegters saam.
Die program skop Donderdagaand af met Wessel Oosthuizen wat praat oor sy 60 jaar in joernalistiek. Hy bring ook van sy gesogte boeke saam.
Fotograaf Johan Orton se onderwerp Vrydag is “Chasing the light” en Mike Masina gaan ’n voorspelling waag oor die 2026 munisipale verkiesing.
Phathiswa Magopeni, hoof uitvoerende beampte van die Persraad van Suid-Afrika, skop die program vroegoggend af met: “The Press Council and Community Press”.
Die vorige uitvoerende hoof, Latiefa Mobara, se onderwerp is: ”Upholding ethics in transition”.
