Witkruise in president Donald Trump se Withuis maak opslae
Vandag, 22 jaar terug, het Lappies deel van plaasmoordstatistiek geword.
Seker die bekendste witkruise in die wêreld!
Kruise wat in die Withuis opslae gemaak het.

Kruise wat president Cyril Ramaphosa grootoog laat vra het: “Ek sal graag wil weet waar dit is”.
Reg langs die pad president!
Die N1 president.
President Donald Trump het die wêreld en Suid-Afrika geskok, met ’n video waar ’n opruiende EFF leier, Julius Malema, dreunsing: “Kill the boer, kill the farmer…”.

Later op die video ry ’n stoet met honderde voertuie om wit kruise te gaan plant vir plaasslagoffers.
Vir weke daarna het die wêreld gegons oor die witkruis monument langs die N1 op pad na Polokwane.
Op 4 Oktober 2025 word daar weer kruise by die monument geplant.
Die organiseerders sê, “dit het baie jare geneem om die wêreld bewus te maak van plaasmoorde in Suid-Afrika. Dit is nou tyd om hierdie werklikheid te bevestig.”
Op Vrydag 3 Oktober kom voertuie, trekkers en stropers by die Caltex Starstop langs die N1 by Ysterberg, tussen Polokwane en Mokopane, bymekaar.
Saterdag om 08:00 vertrek die konvooi na die witkruis monument.

Vandag, 10 September, is dit ook presies 22 jaar gelede, 10 September 2003, wat die geliefde Lappies Labuschagne (65), in ’n plaasaanval op Tonteldoos gesterf het.
Sy dogter, Magda-Marie Brits, sê hulle het al twee kruise by die monument geplant.
Die tweede een deur sy kleinseuns, Johann en Pieter Brits, sy oupa se naamgenoot.

Lappies, soos hy bekend was, is koelbloedig doodgeskiet vir R191.20.
Een van sy aanvallers, Herold Mabuso, is 66 jaar gevangenisstraf opgelê.

Sy drie kinders Ezanne Boardman, Lappies Labuschagne (junior) en Magda-Marie Brits, voer sedertdien ’n verbete stryd, om sy drie aanvallers agter tralies te hou, nadat hulle om parool aansoek gedoen het.

Ezanne het voorheen vertel hoe geliefd haar pa in die Tonteldoos gemeenskap was en selfs die stamhoof in die omgewing het tydens die verhoor briewe ingehandig om te sê watter ongelooflike man haar pa was. “Hy was ’n pilaar en raadgewer in die gemeenskap. Ons kinders en kleinkinders se lewens is verwoes. My ma, Bettie, het haar doodgetreur na sy moord.”



@middelburgobserver Lappies se witkruis een van vele langs N1.
