Klapgeluide was nie gasbottels wat ontplof, maar balke wat val
Daar het beslis geen gasbottels gister tydens die brand by 'n huis ontplof nie.
Omstanders by ‘n huisbrand gister het klapgeluide gehoor en gedink ‘n gasbottel het ontplof, maar dit was hout- en staalbalke wat geval het.
Mnr. en me. Dawie en Jeanette Brits het laat weet dat hul huis nie afgebrand het in Gilfillanstraat nie en dat ‘n gasbottel beslis ook nie gebrand het nie.
Me. Brits meld dat sy gisteroggend buite was en rook geruik het. Die volgende oomblik het sy gesien dat haar man se werkswinkel en hul motorhuis brand.
Sy het dadelik die tuinslang gegryp, hul tuinman geroep om te kom help en ook die brandweer en familie gekontak.
Hul kinders Dawie (jnr) en Christielee, asook omstanders en die brandweer was blitsig op die toneel en het hulp verleen.
Die brand is gelukkig vinnig gekeer voor dit na die huis kon versprei.
Me. Brits meld dat alhoewel hul kamervenster gebars het van die hitte en ‘n gordyn na buite gewapper het, het die huis gelukkig nie aan die brand geraak nie. “Genadiglik het die gordyn nie aan die brand geraak nie, anders sou die brand in die huis in versprei het.”
Mnr. Brits was ten tyde van die brand in Mosselbaai vir werk en het dadelik teruggevlieg om sy vrou te kom bystaan.
Die oorsaak van die brand is nog nie bepaal nie.
Alhoewel daar duisende rande se skade is weens die brand, is hulle dankbaar dat niemand beseer is nie.
Hulle spreek hul hartlike dank uit teenoor hul kinders, asook die brandweer, Hans du Preez en JJ Visser van Titon Alarms en Sekuriteit, Bernard van der Berg, Jos Botha en elke ander persoon wat hulp verleen het.
