’n Petisie met meer as 200 handtekeninge doen tans die rondte in Nasaret waar paaie vinnig agteruit gaan.
DA raadslid Morgan Bruiners wys in skokkende videomateriaal wat aan die Middelburg Observer verskaf is, hoe swak die lap-en-plakwerk aan Caledonstraat gedoen is.
Dié pad is sowat drie weke terug herstel.
Die padwerkers kon egter net halfpad met die herstelwerk kom, voordat hulle materiaal opgeraak het.
Klagtes die afgelope drie weke oor die pad wat bloot so agtergelaat is, met net die helfte van die herstelwerk wat gedoen is, word glo geïgnoreer aldus Bruiners.
Bruiners meld dat daar gesê word dat hulle sal gaan regmaak, as hyself navrae doen.
@middelburgobserver The DA’s Morgan Bruiners in Caledon Street, Nasaret, where municipal workers only fixed one half of the road, before they ran out of materials. Three weeks later and the road is still only halfway done, resulting in a service delivery petition being launched.
Hy sê ook dat ’n tekort aan materiale voorgehou word.
“Geen verskoning troef die feit dat die werk substandaard is en nie eens afgeteken moes wees vir betaling nie,” sê Bruiners.
Hy sê dat daar tientalle slaggate in Nasaret is wat ook herstel moet word.
Volgens Bruiners is daar paaie in die woongebied waar waterpype meer as twee jaar gelede herstel is, waar die paaie nog nie reg gemaak is nie.
“Daai slote lê bykans al drie jaar onaangeraak in sekere dele,” kla Bruiners.
Bruiners het intussen ’n petisie van stapel gestuur, wat al sedert verlede week meer as 200 maal onderteken is.
Die petisie dring aan op ingryping deur die munisipaliteit.
Bruiners bevraagteken ook hoe die munisipaliteit kan afteken op werk, as die werk nie voltooi is nie.
“Iewers jok iemand en word boonop betaal daarvoor,” kap Bruiners.
Hy sê die reënseisoen is op hande, en dat daar nog minder gedoen sal word aan plaaslike paaie sodra die druppels val.
“Sodra dit reën gaan geen pad herstel word nie,” waarsku hy.
• Die munisipaliteit het nog nie op navrae gereageer nie.
