Wie gaan dit wees? Die Care Riders of die VlokSkopstigting?
Met nog net ’n week oor is die twee spanne kop-aan-kop in die groot Munga-uitdaag.
Die span wat die meeste kilometers aan die einde September aftrap, is die wenners.
Die span van Toks en Tjops is in die laaste plek en kan nie meer die voorlopers inhaal nie.
Die vleuel wat bekend was vir sy wawiele nadat hy ’n drie gedruk het, Breyton Paulse, het verlede week die kilometers ingeryg vir Toks en Tjops met 427km, maar is steeds deur PC Nell van die Care Riders geklop, wat 453 afgelê het.
Ian Jordaan was die Vlokspan se voorste ryer met 400km.
Die Care Riders se 14 spanlede het reeds 12 746 met hulle bergfietse voltooi, VlokSkop se 11 ryers 10 613 en Toks en Tjops staan op 2 277km.
Die Franse skopafrigter, Vlok Cilliers, se spanlede is gemiddeld beter daaraan toe met 965km per ryer die afgelope maand en Care Riders 910.
VlokSkop het verlede week veral die kilometers kafgedraf met ’n gemiddeld van 263 kilometer per ryer.
Care Riders het 209km per ryer afgelê.
Dit is dus maak of breek hierdie week wie baas gaan wees in die uitdaging.
Middelburg se bergfietsryers het die laaste paar weke Saterdagoggende begin ry, terwyl die dorp nog geslaap het, om genoeg kilometers bymekaar te kry.
Die Care Riders doen alles natuurlik nie net vir die pret nie, maar dit is een groot poging om geld in te samel vir die opvoeding van die Middelburg Care Village se inwonertjies.
Die spanne gaan later die jaar aan die meer as duisend kilometer Munga bergfiets uitdaag vanaf Bloemfontein na die Wes-Kaap deelneem.
