Alzheimer’s: Moet my asseblief nie vergeet nie!
Saad van blommetjie vir geliefdes by tehuis geplant.

Saterdag 27 September word daar “hoop, liefde en bewusmaking” geplant by die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie se Tehuis vir Bejaardes.
’n Alzheimer’s “forget-me-not”- dag word by die tehuis gehou.
Verrigtinge begin om 9:00 en duur tot 10:00.
Alzheimer’slyers se families, of dié wat geliefdes aan die dood afgestaan het weens die siekte, gaan die saad van “forget-me-not” blommetjies plant.
Die blomme is die simbool van die siekte, en van demensie.
Saad sal by die tehuis beskikbaar wees en vir verdere navrae kan Sumari by 079 699 6045 geskakel word.
- Maar wat is Alzheimer’s se siekte?
Dit is ’n progressiewe siekte wat selveranderinge veroorsaak in dele van die brein wat geheue, taal, persepsie en gedrag kontroleer.
Aanvanklike simptome sluit in vergeetagtigheid, die verlê van items en gebrek aan konsentrasie.
Emosionele simptome soos buierigheid, rusteloosheid of depressie is algemeen.
Daar is gedragversteurings soos agitasie en aggressie.
Anders as vergeetagtigheid wat tipies is van ouderdom kan Alzheimer’s se siekte deur ’n dokter gediagnoseer word.
Namate die siekte vererger sal die persoon en sy versorger die hantering van aktiwiteite al moeiliker vind.
Om ingelig te wees is noodsaaklik vir die hantering van Alzheimer’s.
