KYK: Wanneer Iemand met ’n groot uitveër opdaag…
Die lang totsiens tref al meer families, bevestig tehuis se ‘engele’.
Hulle noem dit “die lang totsiens”.
Dit kan ook wees “die Groot Vergeet”.
Wanneer Iemand met ’n uitveër opdaag en jou geheuebank uitvee.
Alzheimer’s!
’n Vernietigende siekte.
Tog is dit die siektetoestand waaroor mense die meeste grappies maak.
Dit is geen grap nie.
Dit is ’n siekte wat nie net die pasiënt se lewe in hel verander nie, maar ook familielede.
Grapmakers sal sidder as hulle hoor dat Alzheimer’s se siekte geweldig toegeneem het, en die wat daarmee gediagnoseer word, is al jonger. Ja, jy grapkas, kan die volgende wees.
@middelburgobserver Bernice du Plessis of the SAVF Old Age Homes talks about Alzheierm’s disease, and the homes’ support and treatment for residents living with rapid memory loss. Alzheimer’s #memoryunlocked #Middelburg
September is Alzheimer’smaand en die SAVF Tehuis vir Bejaardes hou Saterdag ’n spesiale geleentheid waar familielede, wie se geliefdes met die siekte worstel of wat hulle aan die dood afgestaan het, kans gaan kry om ’n “forget-me-not”-blommetjie te plant.
Area fasiliteit bestuurder, Bernice du Plessis en haar personeel, hoof verpleegkundige Sylvia Vermaak, suster Marcelle Bezuidenhout en maatskaplike werker Sumari Rootman, het Dinsdag hulle harte uitgestort oor die siekte.
“Alzheimer’s is ’n groeiende siekte in ons gemeenskap en al meer nuwe aansoeke is van persone wat Alzheimer’s het,” sê hulle.
“Van die 30 mense in die siekeboeg het 20 Alzheimer’s”.
Hulle het vertel van die trane wanneer familielede hulle geliefdes by die tehuis agterlaat.
’“Daar is baie trane, mense voel asof hulle ’n hondjie by die Dierebeskermingsvereniging aflaai.
“Dit is soos om ’n persoon twee keer aan die dood af te staan. Die persoon ly, die familie ly”.
Omdat mense so oningelig is oor die siekte, maak dit die pad wat naasbestaandes moet aandurf nog moeiliker.

“Wanneer iemand hoor jou geliefde het kanker sal hulle simpatiek reageer. Wanneer hulle hoor die persoon het Alzheimer’s sal hulle sê ‘o, hulle vergeet net’”.
Me. Du Plessis sê dit is veel erger as net iemand wat vergeet.
“Hulle immuunstelsel word aangeval, hulle kry bedsere, hakkel, vergeet later om te sluk en verstik. Dit is ’n bose kringloop.”
Daar is praktiese uitdagings soos Alzheimerlyers wat nie ’n wit bord of eetgerei op die tafel kan sien nie of ’n wit toiletbak, wat die verkeerde kraan in die stort oopdraai, matjies voor ’n kamerdeur wat hulle laat dink daar is ’n gat.
“Mense kyk ook vas na die wreedheid van die siekte en vergeet dan dat die persoon ’n geliefde pa of ma is.”
Reuse werk word by die tehuis gedoen en ’n man wie se vrou al lank daar versorg word, sê die personeel is “ware engele”.
Om die lewe vir geliefdes te vergemaklik, wat elke dag die uitdagings van ’n Alzheimer’s familielid in die gesig staar, is ’n kamer ingerig waar lyers ’n dag kan spandeer. Hulle kry koffie en daar is aktiwiteite vir hulle (sien video).
Daar is ook ’n kamer ingerig met speletjies, lewensgetroue poppe en alzheimervriendelike atmosfeer vir inwoners van die tehuis wat die siekte het.
Familielede moet ook deesdae ’n “Book of Life” saamstel waar die Alzheimerlyer se lewensverhaal met stories en foto’s uitgebeeld word.

Familielede word aangemoedig om:
- Oor daardie album te gesels.
- Om te fokus op die dinge wat hulle onthou soos parfuum of ’n troeteldier.
- Rustig te praat. Ongeduldige optrede kan hulle angstig maak.
- ’n Gunsteling liedjie saam met hulle te sing.
- Hou oogkontak.
- Speel saam wanneer hulle in hulle eie verbeeldingswêreld is, al moet jy ’n witleuntjie vertel.
Laastens… Die grootste hiervan is die liefde!
“Hulle weet dat jy vir hulle lief is…en hulle is ook steeds lief vir jou…al kan hulle dalk nie jou naam onthou nie…”.
Die 21ste September is wêreld Alzheimer’s Dag.
