Die dood van ‘n eerstejaarstudent by die Potchefstroomse spoorwegstasie het plaaslike vriende en familie van die vriendelike Wiëm Pretorius geruk.
Die oud HTS leerling het verlede jaar gematrikuleer.
Hy het vanjaar sy eerstejaarstudies by die Potchefstroomse Universiteit afgeskop.
Volgens sy pa Willem het hy ‘n BA-graad in sosiologie met die fokus op personeel en sakebestuur gestudeer.
Pretorius was Woensdag saam ‘n metgesel by die spoorwegstasie om foto’s te neem.
Die historiese spoorwegstasie is soos Middelburg s’n ‘n gesogte plek vir inwoners om foto’s te neem.

‘n Waarskuwing is intussen uitgereik aan Potchefstroomse inwoners, veral matrikulante wat nou hul matriekafskeide nader, om liefs die stasie te vermy vir foto’s.
Die waarskuwing kom nadat Pretorius op die stasie doodgeskok is.
Hy het glo op iets geklim by die stasie toe hy geskok is.
‘n Geregtelike doodsondersoek is van stapel gestuur, maar geen gemene spel word vermoed nie.
Pretorius was gewild onder sy klasmaats en sal veral onthou word vir sy aansteeklike glimlag, en humor.
Volgens Willem is begrafnisreëlings nog nie getref nie.
