Weerlig tref raadslid se bakkie
'n Raadslid glo, "Die Here se hand van beskerming" was oor hulle.
’n Geel blits en ’n oorverdowende slag!
Raadslid Elsie Vermooten het vertel van die oomblikke voordat ’n weerligstraal hulle VW Amarok getref het.

Sy glo dit is net ’n wonderwerk dat hulle ongedeerd is.
Rdl. Vermooten (Steve Tshwete DA Kiesafdeling voorsitter), haar man, Johannes, Thoko Mkhabela en hul twee schnauzer-honde, Ruby en Evie, was Maandag omstreeks 14:00 vanaf Johannesburg na Middelburg op die N12 onderweg, toe ‘n donderstorm uitbreek.
Sy het gesien dat daar voertuie onder ’n brug staan en sy het vir Johannes gesê dat sy nie kan verstaan dat mense onder ’n brug stop tydens ’n storm nie.
“My woorde was skaars koud toe die weerlig ons Amarok tref. Al wat ons gesien het, was ’n geel blits en ’n oorverdowende slag. Daarna het chaos uitgebreek!” Al die voertuig se alarms het begin loei, die liggies op die paneelbord het aan en af gegaan en die voertuig se hele sisteem het afgeskakel.

“Deur God se genade kon die Amarok veilig beweeg tot op die middelste strook van die hoofweg.” Die bakkie moes later op ‘n platbedtrok gelaai word, omdat dit nie verder kon ry nie.

Rdl. Vermooten sê sy glo nou haar pa se woorde, wat altyd gesê het dat, “die veiligste plek in jou kar is, as daar weerlig is.”
Sy is diep dankbaar, “dat die Here Sy hand van beskerming oor ons gehou het.”
As sy dink aan die gebeure, dan kom dié gedeelte uit Psalm 121:7-8 dadelik by haar op: “Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.”
