Diewe steel verspot maklik ’n Land Cruiser!
Kardiewe het geloop tot by ’n voertuig, ingeklim en weggery.
Die eienaar van ‘n Land Cruiser wat Saterdag gesteel is, glo dit is ‘n sindikaat wat presies weet wat hulle doen.
Mnr. Denys Schmidt is omstreeks 12:00 in by Food Lovers Market. Kringtelevisiemateriaal het later gewys dat twee mans doodluiters om 12:10 na sy Landcruiser toe gestap het, ingeklim en gery het.
Etlike minute later was beide opsporingstelsels en sy selfoon af. Die selfoon het in die kar se deur gelê.
“Hulle moes ‘n sleutel gehad het!” Alhoewel dit ‘n bedrywige oggend was, het die diewe hulle nie gesteur aan die mense om hulle nie, reguit geloop na die Land Cruiser toe, ingeklim en weggery.
Hy vermoed hy is dopgehou oor ‘n tydperk en dat die boewe ‘n sleutel laat maak het. Ook dat hulle moontlik ’n seinblokker het sodat die opsporingstelsels nie werk nie.
Mnr. Schmidt het dadelik op al wat noodgroep is laat weet dat sy Land Cruiser gesteel is en het lede van die Traffic Alert WhatsApp-groep alles in hul vermoë gedoen om die voertuig te help opspoor.
‘n Ruk na die diefstal is videomateriaal van veiligheidskameras gedeel wat aandui dat die Land Cruiser afgedraai het op die Doornkoppad.
Daarna is laat weet dat die voertuig weer opgemerk is naby die De Voetpadkloof afrit. Insleepdienste wat bo in Kranspoort besig was om met ’n voertuig te help, het laat weet dat die Land Cruiser op ‘n hoe spoed verby hulle gejaag het.
Alle veiligheidskameras is in die omgewing nagegaan, maar het dit duidelik geword dat die voertuig nie by Loskopdam verby is nie. Hulle vermoed dat hy weggedraai het op die Avontuurpad.
Dit is ’n wit Land Cruiser VX 200, registrasienommer FTN063L. Die voertuig het swart sierwiele (mags) op.
Enige inligting wat kan lei tot die opsporing van die voertuig, kan deurgegee word aan die Middelburg Polisiestasie deur (013) 249 1600 te skakel (hulle met net datum van die diefstal en mnr. Schmidt se besonderhede saamgee sodat hulle kan weet om dit aan die toepaslike ondersoekbeampte oor te gee).
- “Ek wil graag my dank uitspreek teenoor Food Lovers Market se personeel, asook Herman van Seattle Coffee wat ons bygestaan en veilg terugbesorg het by die huis. Dankie ook aan almal van Traffic Alert wat die kameras nagegaan het,” het mnr. Schmidt gesê.
- Daar is navraag gedoen by die polisie se provinsiale mediakantoor en gevra of dit wel so is dat ’n sindikaat betrokke kan wees. Ook is gevra of daar ’n toename is in Land Cruiser diefstalle. Sodra hulle antwoord, sal ons daaroor berig.
