Twee 15-jarige HTS leerlinge is Saterdag weer in John Coxstraat aangeval deur leeglêers nadat ’n seun op 10 September daar gewurg en beroof is van sy selfoon.
In Saterdag se voorval, was die seun en meisie op pad na sy ouma se huis in Morkelstraat toe hulle hul vasgeloop het teen drie gewapende mans in John Coxstraat.
Die seun het die trio beleefd gegroet en verder gestap.
Die dogter het egter opgemerk dat die kriminele hulle agtervolg, en reg agter hulle was.
Die seun het vir die dogter gesê om te hardloop terwyl hy omgedraai het om die mans te konfronteer.
Toe een van die kriminele ’n mes uitpluk en in die seun se rigting swaai, het hy die mes uit sy aanvaller se hand geskop.
Al drie die mans het toe die seun getakel en op die grond neergegooi.
Terwyl hy geskop en geslaan is, het die boewe ook die slagoffer se selfoon en bankkaart gesteel.
Midde die stoeiery met die booswigte kon die seun daarin slaag om vlug.
Hy was vol kneuswonde na die aanval.
• In voorverlede week se voorval was die slagoffer nog in sy skoolklere op pad huiswaarts toe hy deur twee mans, gewapen met ’n mes, getakel is.
Hy is met die mes na sy keel gemik deur die aanvallers gewurg, voordat hulle ook ’n konkoksie wat geruik het soos ’n mengsel van alkohol en gom, omder sy neus gesmeer het.
Hy is toe beroof van sy selfoon.
Dit was die vierde maal hierdie jaar wat die slagoffer lastig geval is in die straat.
Vorige kere is R100 by hom gesteel, en is hy ook gedreig op twee geleenthede dat hulle hom sou leed aandoen as hy weer sonder geld of fone verby hulle stap.
Die seun se skoolbaadjie en klere is in die aanval geskeur en moes vervang word.
Na die aanval het sy besorgde pa vir Middelburg Observer gesê dat hy vrees dat sy seun volgende keer in ’n lyksak sal huis toe kom.
Hy het ook bygelas dat dit keer op keer dieselfde leeglêers is wat in die omgewing by die treinbrug opgmerk word.
