Harry Laver (39) senior, ’n sakeman van Middelburg, het vir hom ’n sierlike ruim huis gebou wat front aan Kerkstraat, later Walter Sisulustraat.
Die huis is ontwerp met twee frontgewels en ’n sentrale stoep. Dit was basies die eerste huis vanaf die suidelike ingang van die dorp.
Hy noem die huis Highbury Hall.
Laver was vanaf 1907 tot 1909 burgemeester van Middelburg.

In Februarie 1901 versoek Lord Horatio Kitchener, Britse opperbevelvoerder tydens die Anglo-Boereoorlog, dat daar vredesonderhandelinge gehou word.
Generaal Louis Botha reis te perd vanaf die Ermelo distrik na Middelburg vir die onderhandelinge.
Kitchener vertrek op 23 Februarie 1901 reeds na Middelburg en gaan tuis in Highbury Hall.
Buite die dorp is Botha deur ’n Britse militêre eskort ingewag, bestaande uit beredesoldate.
Hulle ry direk na Highbury Hall, die hoofkwartier van generaal Lyttelton Wilson. Wilson was in Kaapstad tydens die onderhandelinge.
Bronne dui volgens die Middelburg Erfenisvereniging se bloubordjieprojek aan dat die onderhandelinge in die huis begin, maar later in die tuin voortgesit is.
Op 16 Maart 1901 het generaal Botha die vredesvoorstelle van die hand gewys.
Laver woon na die oorlog in die huis en sy seun Harry Laver junior word in Highbury Hall groot.
Hy bedryf sy sakeonderneming in Southampton House in Kerkstraat tot sy dood in 1938.
Highbury Hall word later verhuur en in die 1960’s gesloop om plek te maak vir die huidige Rinahof.
Verskeie strate in Dennesig is na belangrike persone tydens die oorlog vernoem soos Kitchener en Louis Botha.
Die Erfenisstigting van Suid-Afrika se nasionale simposium word vanaf 13 Oktober by die Middelburg Buiteklub gehou.
Verskeie gedenkwaardighede gaan behalwe vir insiggewende praatjies, gedurende die week besoek word.
Om die simposium by te woon skakel Soekie Rossouw by 082 922 7498.
