News

Koos goes to Amêrika…

Na sopie mampoer doen hy en Big Sam die leeuloop.

As ou Leon Schuster nog net een fliek kon maak: “Koos goes to Amêrika”.

Daar is mos genoeg materiaal?

Draaiboek een:

Koos, sy drie seuns en vroutjie, kry asiel in Amerika

Dit is met ’n swaar gemoed en traan in die oog, wat hy Vivo se stof van sy voete afskud.

Die aand voordat die vliegtuig na Amerika vertrek, rol Koos heelnag rond.

Sy gootste bekommernis is die Ingels.

Hoe gaan hy wie se Engelse woordeskat “Yes” en “No” is, in die vreemde regkom?

Sê nounet hy word siek en moet vir ’n dokter iets privaat verduidelik wat alreeds moeilik is in Afrikaans?

Sommer so in sy gedagtes formuleer Koos die Engelse woorde maar hy steek elke keer vas by ”my $%# are so very sore dokter”.

Waar gaan hy goeie boerewors kry om te braai?

Is daar biltong in Amerika?

Gaan hy sy twee kilogram biltong verby doeane gesmokkel kry?

Sy our army balsak en veral sy boshoed bly nie agter in Suid-Afrika nie. Daarvoor het hy te veel opf%^^ deurgemaak om alles nou hier te los.

Buitendien is daar ’n voorraad Buffelsfontein brandewyn in die balsak wat Suid-Afrikaanse Brouerye sou jaloers maak.

Koos se familie wuif lank nadat die vliegtuig in die vreemde verdwyn, nog met heimweë en nat sakdoeke.

Die Van der Merwes besluit hulle wil in Pennsylvania bly.

Pennsylvania het vir Koos soos penicillin geklink en “daarom kan hulle nie verkeerd gaan nie”.

Toe die vliegtuig in Amerika land, stap Koos boshoed op die kop om sy tas te kry, toe ’n snuffelhond vervaard verby hom vlieg. Hy (die hond) lyk soos een van hierdie windhonde wat agter ’n haas aan hol.

Hy krap dat die speeksel spat aan Koos  se tas.

Die tas waarin Damwal Slaghuis se beste geelvetbiltong weggesteek is.

’n Peloton polisiemanne staan nuuskierig nader.

Maar Koos het nie verniet tydens evaluasie in die army die eerste prys gewen vir kamoeflering nie.

Die twee kilogram biltong is netjies weggesteek in sy ou bruin army issued onderbroek.

Die polisiemanne gee daai hond een vies kyk en mompel iets van “old dirty stinking underpants”.

By hulle nuwe huis sonder diefwering, palissades en oop erf in Pennsylvania, het Koos skaars sy tasse neergesit toe hy aankondig: “Nou gaan ons braai”.

Die ou silwer radio met CD-speler word onder ’n boom neergesit en “Hie kommie Bokke” laat die Amerikaaanse namiddag lewe kry.

Koos het skaars sy eerste proestukkie boerewors op die kole gegooi, toe sy buurman opdaag.

“I’m Big Sam” stel hy homself voor.

“I are Koos van der Merwe from Vivo.”

Koos het iets onthou van sy Engelse onderwyser wat gesê het “he she and it is and the the others are” en I is mos are?”

Die Amerikaner wil weet of Koes, soos hy hom noem, gaan barbeque.

Koos vervies hom so half vir die gebarbqueen maar besef hy is nie meer in Vivo nie.

Hy gooi eerder vir die Amerikaner ’n stywe Buffelsfontein, “drink jou rowwe bliksem”.

So begin Koes se nuwe lewe in Amerika met braai, Bokke en Buffelsfontein.

Klaarblyklik het die brandewyn nie net ’n helende uitwerking nie, maar hier na die vierde dop, voel Koos hy praat darem nou lekker Amerikaans.

So lekker dat hy en Big Sam ’n diep filosofiese gesprek voer oor Trumpie en Trompie.

So lekker dat die aand afgesluit word met ’n proppie of twee mampoer wat Koos ook in die balsak saamgebring het.

En net voordat die Amerikaner moet luiperdkruip huis toe, kondig Koos aan…

nou gaan ons eers die leeuloop doen…

eintlik het Koes gesê “now we are going to walk like a lion”…

(’n Balsak is  ’n groot bruin sak waarin troepe hulle besittings soos eetgerei gesit het tydens dienspligjare).

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Check Also
Close
Back to top button