Al meer bejaardes is haweloos.
Sonder ’n dak oor die kop.
En die rede?
Hoe skokkend hoe dit ookal mag klink; as gevolg van hulle kinders.
Dit is nêrens duideliker as by die Koppiestraatprojek nie.
Eienaars van die projek, Louise en Johan Lee, sê bejaardes sit dikwels eiendom op hulle kinders se naam.
Sommige doen dit om nie later boedelbelasting te betaal nie.
’n Ooreenkoms wat aanvanklik rooskleurig gelyk het en tot voordeel van almal, versuur later.
Bejaardes word ’n “oorlas” vir hulle kinders en word gevra om ’n ander heenkome te soek.
Die huis waar hulle ’n lewe gebou het, behoort nie meer aan hulle nie.
Dit is waar Koppiestraat ’n veilige hawe is.
Daar word tans 40 mense gehuisves.
Dit is nie net enkellopendes nie, maar ook gesinne.
@middelburgobserver Koppie Street in Middelburg provides housing for more than 40 destitute residents residents ,often including families with young children, as well as state pensioners. More and more elderly people are seeking refuge at Koppie Straat due to their children cutting them off financially. Video: Tobie van den Bergh.
Die nood is so groot dat daar beplan word om nog huisies op te rig, nie die huidige wendy huisies nie maar stewiger metaalstrukture.
“Ons word oorval. Daar gaan nie ’n dag verby waar dakloses aan ons deur klop nie. Daar is werklik geweldige groot nood.”
Met die kibboets wat ’n paar jaar gelede gesluit het, pastoor Jannie Jacobs se Oorwinnaars wat toe is en Hope Corner wat nie meer verslaafdes inneem nie, wemel die dorp se strate van haweloses.
Omdat die Koppiestraatprojek sedert sy ontstaan zero tolleransie het vir alkohol- en dwelmmisbruik is dit ’n gewilde heenkome vir mense wat net ’n plekke soek wat veilig is.
Dit is egter nie net die kinders/ouers-probleem wat mense op straat laat beland nie, maar ook werkloosheid.
Daar is tans ’n groot behoefte aan vleis om vir die inwoners darem twee maaltye per dag te gee.
“Daar is ’n boer wat ons voorsien van meel en ’n slaghuis wat elke maand vir ons maalvleis gee, maar vleis bly ’n groot behoefte.”
Die projek kry ook gereeld klereskenkings.
“Daar was samesprekings om met Solidariteit saam te werk, maar hulle is hier weg met agt vragte klere en ons het nooit weer van hulle gehoor nie.” (Lees Solidariteit se kommentaar in ’n opvolgberig).
Indien daar mense is wat kan help met veral vleis kan hulle Louise skakel by 064 349 7907.
