News

Van Krugerdam tentjie na Koppiestraat

Helpende Hand sê hy is bereid om na oplossing te kyk.

’n Hawelose gesin wat langs Krugerdam in ’n tentjie gebly het, was die begin van die Koppiestraat-behuisingsprojek 13 jaar gelede.

Mary-Anne Brooks het saam met haar seun vis gevang om te oorleef.

Nadat Gerhard Rheeder ’n berig oor hulle nood geskryf het, het Johan Lee uit die goedheid van sy hart vir hulle ’n dak oor die kop gegee langs die Merriespruit.

Die eerste gesinnetjie het intussen aangegroei tot 40 inwoners.

Daar was sowat agt jaar gelede bestuursprobleme met die projek wat dit in ’n swak lig gestel en hulp laat opdroog het.

Dit is intussen aangespreek en die veilige hawe, vir talle wat op straat sou slaap, word met ’n yster maar tog fluweel hand bestuur.

Solidariteit Helpende Hand het ’n verklaring uitgereik oor  klagtes dat hulle die Koppiestraatprojek in die steek gelaat het.

Annemarie van Heerden, Helpende Hand se streekorganiseerder vir Mpumalanga en KZN-Noord, het bevestig dat daar kontak was met die bestuur van die Koppiestraat-behuisingsprojek en dat ’n besoek saam met ander rolspelers plaasgevind het.

In dié gesprek is onder meer gekyk na moontlike samewerking, kapasiteit en regulatoriese vereistes wat met sulke projekte gepaardgaan.

“Uiteindelik het Helpende Hand, weens bepalende redes, besluit om nie formeel betrokke te raak nie.

“Die klere wat tydens die proses ontvang is, is as skenking hanteer en deur Ons Winkel Middelburg verwerk. Soos met alle skenkings is dit volgens ons standaardproses gehanteer en die opbrengs word gebruik vir Helpende Hand se opheffingsprojekte in die gemeenskap.

Dit sluit onder andere finansiële bydraes in om studente deur ons Studietrust te ondersteun. Die plaaslike bestuur het dit ook verwelkom, aangesien hulle meer ruimte vir kantore benodig het. Ons het verder aangedui dat indien daar in die toekoms ’n situasie ontstaan waar inwoners iets dringend benodig, die bestuur by Ons Winkel basiese items kan kom verkry,” sê sy.

“Ons besef dat daar moontlik ’n kommunikasiegaping ontstaan het en bly oop om verdere gesprek te voer en oplossings te ondersoek wat in die beste belang van die gemeenskap sal wees.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button