News

Berigte oor kerke weerklink tot op preekstoel

Kommentaar van mense skok dominee.

Berigte oor kerke wat hulle deure sluit en verkoop word, wat die afgelope paar weke op die Middelburg Observer se webblad gepubliseer is, het tot op ’n preekstoel weerklink.

Ds Colin Hertzog van die Hervormde Noord-gemeente het Sondag daaroor gepreek onder die opskrif “Vreemdelinge”.  Sy skrifgedeelte was 1 Petrus.

Hy het gesê “daar het onlangs baie akkurate berigte verskyn,  oor hoe Afrikaanse kerke lidmate verloor. Hulle deure toe maak en te koop is, ook hier in ons omgewing.”

Ds Hertzog het gesê: “Dit is jammer dat dit akkuraat is, maar dit is akkuraat.”

Hy het weer beklemtoon: “Afrikaanse kerke is besig om lidmate te verloor.”

Soos in die berigte genoem is, het hy herhaal dat dit baie te doen het met demografie “mense verhuis en veral kerke op die platteland kry swaar.”

Ds Hertzog het gesê die berigte was baie nodig gewees, want dit laat ons nadink oor kerkwees.

“Dit konfronteer ons elkeen met die vraag of ek en jy   toegewyd genoeg is aan ons gemeente en kerke in Suid-Afrika.

“Dit het my laat nadink oor my kinders en hulle kinders en hulle kinders se toekoms in die kerk.”

Hy sê as statistiek voortborduur soos die laaste klompie jare, die kans daar is dat kerke nie gaan voortleef “waar ons kinders berading ontvang, goeie teologie, huwelike aangeraak kan word, daar ’n morele kompas vir hulle is en hulle deel kan wees van ’n geloofsgemeenskap.

“Ons moet dink aan die kerk van vandag en van more. Die berigte het dit reggekry.”

Hy het gesê wat vir hom verstommend was, was die kommentaar van sommige mense op die berigte.

“Dit was asof daar mense hier buite is wat hulle daarin verlekker, dat party kerke swaar kry en dit moeilik gaan.

“Dat hulle juis nou die mes wil uithaal om die  kerk ’n finale doodsteek te gee.”

Van die kommentaar was:

“Die kerk bestaan uit tweegesig mense van die dorp wat saam met die duiwel in en uit die kerk se deur stap, suiker op die tong, gif in hulle harte.”

“Kerke het ’n besigheid geraak.”

“Jy hoef nie in die kerk te sit om God te eer nie.”

“Hulle praat sondige goed en verdraai die Bybel.”

“Kerke is vol vals profete.”

Ds Hertzog het gesê as jy die kritiek hoor, moet jy hand in eie boesem steek, maar dit gebeur ook dat mens opstandig raak.

“Dit is hartseer wat ons met goeie bedoelings doen, so in twyfel getrek word.”

Hy het die betrokkenheid van die kerk in mense se lewens uitgelig, soos die Hervormde Noord-gemeente wat daardie oggend kos na die diens saamgeneem het om aan behoeftiges uit te deel.

Daar word ook berading gebied, terwyl sowat vyftig persent van die mense wat gehelp word, nie eers ’n lidmaat van die gemeente is nie.

Begrafnisse word gratis gereël.

“Wanneer mens die reaksie op die berigte lees, maak dit jou opstandig.

“Wat ons doen is nie net sleg nie, nie alles is reg nie, maar ook nie alles sleg nie.”

Hy het uit die skrifgedeelte aangehaal en gesê “ons moet onthou wat Petrus gesê het oor mense wat in die selfde situasie was.

“Christene  het uitgestaan as vreemdelinge.

“Petrus sê vir mense wat in die selfde omstandighede is en daarmee gekonfronteer word, julle moet een ding onthou en ’n ander ding doen.”

Sy boodskap was:

“Julle is uitverkorenes deur God uitgekies.

“Wedergeborenes.

“Die nuwe volk van God.

“Ons luister so na die tendense van die wêreld dat ons nie hoor wat God sê nie.

“God sê julle is nie vir my vreemdelinge nie, julle is my kinders.

“Ons  moet besluit of ons vreemdelinge vir die wêreld wil wees of vir God.

“Petrus sê julle moet dit koester.

“Smag eerder meer daarna, herinner mekaar daaraan.

“Julle behoud is dat julle vreemdelinge vir die wêreld is, maar nie vir God nie.”

 

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button