Is daar ’n skat wat wag om opgegrawe te word?
Dr. Pierre Edwards kom praat oor raaisel van Krugermiljoene.
Is daar iewers in die Middelburg omgewing ’n skat wat wag om opgespoor te word?
Vir jare al glo mense die Krugermiljoene is op die dorp begrawe.
Indien nie die Krugermiljoene nie, dalk die Engelse soldate wat op Middelburg gestasioneer was se geld?
Jorrie Jordaan, wat later by Columbus Stainless se sekuriteit gewerk het, het vertel dat hy as jong polisieman ’n Engelsman moes vergesel wat vanaf Londen gekom het om na geld te soek.
Hy was glo die betaalmeester van die Engelse en het geld,”by ’n Kerk” begrawe en is terug na Engeland sonder om dit ooit weer op te grawe.
Volgens ‘Oom Jorrie, soos hy bekend was, was die Engelsman heeltemal verward, omdat die dorp teen daardie tyd geweldig uitgebrei het.
Die geld is nooit opgespoor nie.
Dit het ander skatgrawers nie verhinder om gereeld by die munisipaliteit aansoek te doen om opgrawings op die dorp te doen nie.
Veral in die tagtigerjare was daar gereeld sulke aansoeke.
Maar is die Krugermiljoene fiksie of feite?
Dr. Pierre Edwards gaan by die nasionale erfenisstigting se simposium op 15 Oktober by die Middelburg Buiteklub, vanaf 8:30 tot 9:30, praat oor: ‘The Kruger Millions, Fact or Fiction’.
Mense wat die simposium wil bywoon kan die Middelburg Erfenisvereniging se sekretaresse, Soekie Rossouw, skakel by 082 922 7498.
Die Krugermiljoene is, ʼn groot hoeveelheid geld en goud wat tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) uit Pretoria na die destydse Oos-Transvaal geneem is om te keer dat die Britte dit in die hande kry.
Die waarde van hierdie goud was ongeveer 500 000 Britse pond. 500 000 Britse pond is meer as R10 miljoen.
In 1905 was daar ʼn man wat beweer het dat hy en twee ander mans deur die ZAR se regering gehuur is om goud, munte en diamante te begrawe. Hy het gesê dat dit bietjie meer as 100km noord van Blyderivier en Leydsdorp begrawe is.
In ʼn boek met die titel Looted gold word beweer dat die Krugermiljoene na Switserland geneem is.
