News

‘Dierbare hospitaalpersoneel’ versorg tannie Marie tot haar dood

’n Gesin van Blinkpan praat net met lof van die diens by die Middelburg Hospitaal se Ongevalle- en Intensiewesorgeenheid.

Baie mense het al gekla oor die Middelburg Hospitaal, maar die familie van Marie Minders (78) sê hulle kan nie genoeg dankie sê vir die personeel van dié hospitaal nie.

“Sy het net die beste sorg ontvang,” het hulle dankbaar genoem. Tannie Marie is op 24 September in die intensiewesorgeenheid opgeneem en versorg tot met haar afsterwe tot 7 Oktober.

Tannie Marie is op 23 September per ambulans vanaf Blinkpan na die Middelburg Hospitaal geneem.

“In Ongevalle was daar ’n vroulike dokter en verpleegsters wat mooi na haar gekyk het en kort-kort ingeloer het by haar.”

Hulle het ook haar dogter, Wilma van Loggerenberg geroep en ingelig gehou oor hoe dit met haar gaan vanaf 21:00 die aand tot die volgende dag, toe sy om 14:00 na die intensiewe eenheid geskuif is.

“Ons kon tydens al die besoektye vir haar gaan kuier en die dokter en verpleegsters was dierbaar. Hulle het regtig mooi na haar gekyk. Die beddegoed en alles was skoon en netjies. Van ons familielede was tydens al die besoektye daar en daar was nooit klagtes nie. Die intensiewe eenheid van die Middelburg Hospitaal is regtig ’n wonderlike span. Hulle kyk mooi na ’n mens se hartsmense.”

Hulle het hierdie week gesê dat mense, “gerus jul geliefdes soontoe kan neem. As jy respekvol is, is hulle respekvol teenoor jou in ongevalle en intensief. Hulle doen alles menslik moontlik. Baie dankie Middelburg Hospitaal!”

Tannie Marie was welbekend in Blinkpan waar sy die afgelope 36 jaar gebly het.

“Sy was ‘n wonderlike mens. Jy het gewoonlik ’n prentjie of boodskap van haar af op Whatsapp gekry wat sê ‘Lekker slaap,’ of ‘Goeie more‘. As sy gehoor het jy of iemand in jou gesin is nie lekker nie, sal sy baie keer opvolg om te hoor hoe dit gaan. Daar is baie mense wat op Facebook gesê het hulle gaan haar boodskappies mis.”

Tannie Marie Minders soos haar kinders en kleinkinders haar sal onthou.

Tannie Marie word oorleef deur haar man, Peet (met wie sy 57 jaar getroud was), dogters Ansie Mostert, Wilma van Loggerenberg en Petra Potgieter, skoonseuns, sewe kleinkinders en een agterkleinkind.

’n Gedenkdiens word op 17 Oktober om 11:00 uit die NG Kerk, Blinkpan gemeente gehou.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button