News

Witkerk waak al vir jare oor die dorp

Dat hy sy deure sal toemaak ondenkbaar.

 Berigte die afgelope tyd dat talle NG Gemeentes die laaste paar jaar gesluit het, laat kommer ontstaan oor die indrukwekkende NG Witkerk in Walter Sisulustraat op Middelburg.

Dit is ondenkbaar dat die kerk nie meer ’n rol in die dorp se geskiedenis sal speel nie.

Die Witkerk is een van die geskiedkundige persele wat simposiumgangers op Dinsdag 14 Oktober, om15:30 tot 16:30, besoek tydens die nasionale erfenisstigting se jaarlikse simposium by die Middelburg Buiteklub.

Die simposium begin Maandag 13 Oktober en duur tot Donderdag 16 Oktober.

Die gemeente is op 13 Maart 1866 onder die naam “Nasaret” gestig. Die geskiedkundige gebeurtenis het plaasgevind op die plaas Elandspruit, wat aan ouderling N.P. Prinsloo behoort het, en ongeveer 10 km buite die dorp geleë is.

Gedurende 1866 is Nasaret opgemeet en uitgegee op ’n plaas wat aan die gemeente Lydenburg behoort het.

Eers op 24 Februarie 1872 is Nasaret deur die staatspresident tot ’n afsonderlike distrik verklaar en is A.B. Joubert as eerste landdros aangestel.

Die tweede gebou wat opgerig is (in 1867), was ’n klein NG kerkie, waarvan die hoeksteen deur ds. Frans Lion Cachet gelê is.

Hy is deur eerw. Merensky, ’n sendeling op Botshabelo, bygestaan.

Die Witkerk in historiese gestalte. 

Op 9 September 1874 het die gemeente sy eerste vaste leraar bevestig in die persoon van ds. D.F. Bosman.

In 1884 is ds. A.P. Burger as leraar bevestig, en hy bedien die gemeente 44 jaar lank.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) sluit hy hom as veldprediker by die Middelburg-kommando aan, maar word in Februarie 1902 gevang en na Indië gestuur.

In Mei 1929 word ds. G W.S. Hofmeyr bevestig.

Met sy bevestiging in Mei 1929 het die gemeente ongeveer 1 800 lidmate getel.

Daarna het jare van swaarkry soos nou gevolg, veral die depressie van 1930-31.

Dit het veroorsaak dat groot getalle lidmate – veral jongmense – na die stede verhuis het.

Dit het meegebring dat die ledetal mettertyd kwaai gedaal het.

Ds. A.P. Burger het die hoeksteen van die huidige kerkgebou op 2 April 1887 gelê en in die jaar 1890 is die kerk ingewy.

Vir navrae oor die simposium skakel Soekie Rossouw by 082 922 7498.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button