’n Oud Hoërskool Middelburg leerling, wat later haar loopbaan by Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria voltooi het, Bianca Lubbe, is gisteraand aangewys as die Universiteit van die Vrystaat se junior sportvrou van die jaar.
Sy het Suid-Afrika by die wêreld o/21 kampioenskappe in Gibraltar verteenwoordig, waar die jong Proteas met 55-35 in ’n uitspeel wedstryd om die derde plek vasgeval het. Dit was die “Baby Proteas” se beste vertoning ooit.
Die netbal gogga het haar alreeds in graad een by Laerskool CR Swart beetgepak.
Daarna was Bianca en prestasies sinoniem.
Sy speel vir Affies se eerstes vanaf graad 10. In graad 11 is sy as die beste ligaspeler van die jaar aangewys. Dieselfde jaar word sy ook vir Gauteng gekies en sy is onder die top 35 Suid-Afrikaanse spelers vir die nasionale o/19 groep.
In 2023 lei sy haar o/17A-Affiesspan tot ’n onoorwonne seisoen waartydens hulle die liga, Gauteng en Suid-Afrikaanse titel inpalm.
In 2024 wen die span ook die Wildeklawer toernooi, Gauteng en SA kampioenskap. Sy word gekies as kaptein van die Gautengse o/18 Delta span.
Bianca speel hoofsaaklik doel maar is so talentvol dat sy ook in ander posisies kan uithelp.
En nou is sy ’n Bloemfonteiner en die netbalwêreld lê oop vir die Middelburger, in die kleure van Kovsies of die Proteas.
