’n Springbok hulpafrigter, ’n legendariese Springbok losskakel, Springbok voorry en nou ’n Curriebeker wenner.
Dit is die lys van oud afrigters en spelers wat deesdae by hoërskole rugby betrokke is.
Die jongste is MJ Mentz wat verlede week aangestel is as rugbyhoof by Hoërskool Nelspruit.
Mentz was hulpafrigter van die Puma span wat die Curriebeker in 2022 gewen het en ’n gewese Springbok sewes speler.
Hoërskool Nelspruit het hom amptelik verwelkom en gesê “die skool sien uit na die rugbyseisoen onder sy kundigheid, passie en leierskap, wat beslis nuwe energie na ons rugbyspanne sal bring”.
Die Pumas het in ’n afskeidsboodskap gesê Mentz was “’n ongelooflike deel van die Puma familie”.
Die Puma hoofafrigter, Jimmy Stonehouse, het op sosiale media ’n boodskap geplaas en Mentz bedank vir sy bydrae tot die sukses van die Pumas op die veld en van die veld af.
“Totsiens seun en dankie vir wie en wat jy is. Ek, die ondersteuners, die afrigters en spelers sal jou baie mis.”
Bekendes wat die afgelope tyd hulle gewig by skole ingegooi het is Rudy Joubert by Hoërskool Ermelo. Hy was ’n Bok hulpafrigter.
Bok losskakel Naas Botha by Eldoraigne.
Springbok voorry Jannie du Plessis by Monument.
Jano Venter by HTS Middelburg. Hy is ’n oudleerling van die skool wat professionele rugby gespeel het by die Leeus, Bulle en in Japan.
Springbok vleuel Pieter Rossouw wat Paarl Gimnasium afrig.
Hoërskool Middelburg is die uitsondering wat ’n onderwyser, Christiaan Gouws, as hulle rugbyhoof aangestel het. Hy gaan ook vanaf Januarieby die skool se boerdery afdeling betrokke wees.
Die skool hoop duidelik dat die Hoërskool Helpmekaar onnie sal help dat hulle rugby vooruit boer, in die bekerafdeling.
Nelspruit speel saam met HTS Middelburg in die plaatafdeling.
