Video: Boere veg vir ure teen vuur wat weiding verwoes
Boere en die brandweer het gister vir ure gestry teen 'n veldbrand in die Keerom-area.
Meer as 130 hektaar weiding is verwoes en vee moes inderhaas geskuif word tydens ‘n veldbrand gister (Donderdag) in die Keerom area.
Pamela Cloete vertel hoe die boere en brandweer soos een man saamgestaan het om vanaf 11:00 gisteroggend teen die hemelhoë vlamme te stry.

Sy sê hulle weet nie hoe die brand ontstaan het nie, maar dit blyk dat dit aan die Stoffbergkant (oorkant die polisie se honde-eenheid) begin het.

Daarna het ‘n sterk wind dit aangejaag oor die plase van Neels Venter, Niels (Pamela se pa), Goodie en Vilhelm Erichsen.
Vlamme wat in bome opgebrand het, se vuurtonge is op plekke tot sover as 100m ver gegooi, waar dit groot gedeeltes van die veld weer aan die brand gesteek het met die wind wat talle kere gedraai het.

“Daar het al ‘n paar druppels op ander plekke geval, maar hier by ons het dit nog nie gereën nie. Die boere hierdie kant het begin plant, maar gestop, omdat dit so droog is.”
‘n Trekker met disk is ook ingespan om al langs die vuur nog brandstroke te trek, sodat dit nie oorspring na nog plase toe nie.

Al is daar bykans geen weiding vir die diere oor nie en was dit ‘n hartseer gesig om te sien hoe alles wegbrand, is hulle dankbaar dat niemand seergekry het nie. Daar was ook geen veeverliese nie.
“Ons wil die brandweer en al die ander boere wat help vure slaan het en tot na 17:00, van harte bedank.”

@middelburgobserver Boere het vir ure saam met die brandweer teen hemelhoë vlamme geveg tydens ‘n veldbrand gister op plase in die Keerom area, net buite Middelburg.
Pamela noem dat dit ongewoon is om so ‘n vuur in Oktober te hê.
“Dit is hartseer om die bekommernis in my man en pa se oë te sien. Ons wil die gemeenskap vra om saam met ons te bid vir reën.”
