Legendariese apteker oorlede
'n Legendariese apteker van Middelburg is in die vroeë oggendure in die hospitaal oorlede.
Een van die bekendste aptekers van Middelburg, Francois van der Walt (57), is vanoggend omstreeks 03:00 in die Life Midmed Hospitaal oorlede.
Twee van sy jarelange vriende, Jan Botha en Theo Pistorius, kan steeds nie glo Francois is so skielik oorlede nie.
“Hy was nog Maandagaand daar by Dagbreek Apteek, waar ons gevra het hoe dit met sy hand gaan na die karpale tonnel-operasie wat hy onlangs ondergaan het,” vertel Jan.
Francois het hulle verseker dit gaan goed met hom.
Gister het hy so ernstig pyn in sy rug gehad dat hy na die Life Midmed Hospitaal gehaas is. Dit was sy ma, Cecilia, se 85ste verjaardag ook gister en het sy tans by Francois gekuier.
Theo sê hy het die skok van sy lewe gekry toe hy vanoggend 05:30 wakker word en die boodskap sien waarin Alrika, Francois se skoondogter, hom kort na 03:00 laat weet het van Francois se afsterwe.
“Dit is ongelooflik hartseer. Ons was jare saam in die Bybelstudiegroep. Francois het altyd die ekstra myl vir almal geloop.”
Jan vertel dat Francois op ‘n stadium saam met hom ‘n vennoot was by die Moms Apteek. Sowat 10 jaar gelede is Francois oor na Clicks, waar almal hom geken het as die saggeaarde apteker, wat altyd tyd vir hulle gemaak het.
Francois was op ‘n stadium (toe hy nog by die Moms-groep was), die voorsitter van die Mpumalanga Aptekersvereniging. In daardie jare het hy ook ‘n paar keer die Apteker van die Jaar toekenning in die groep ontvang.
Jan meld dat Francois homself verder bekwaam het met ‘n kwalifikasie in primêre gesondheid en kon hy kleiner siektetoestande diagnoseer en behandel.
Francois se besondere persoonlikheid het almal oorrompel.
“Hy was ‘n harde werker en het ‘n ongelooflike deernisvolle geaardheid gehad. Jy kon altyd peil trek op Francois se woord en hy was lojaal teenoor sy vriende en veral teenoor sy vrou, Hanri.”
Daar word verneem dat die Clicks Apteek in die dorp vanoggend hul deure vir die dag gesluit het in herinnering aan Francois.
Francois word oorleef deur sy vrou, Hanri, seun Gerhard, skoondogter Alrika, kleinseun Dian (7 maande oud) en sy moeder, Cecilia.
