News

Elke asemteug ‘n uitdaging: Bejaarde moet keelrekonstruksie ondergaan

'n Bejaarde man se keel moet heeltemal herbou word, maar kan hy as pensioenaris dit eenvoudig nie bekostig nie.

Gerhard Deysel (71) moet dringend weer operasasies aan sy keel ondergaan om net ‘n normale lewe te kan lei, maar mediese uitgawes wat derduisende rande beloop maak dit onmoontlik.

Gerhard en sy vrou Martie, is albei pensioenarisse, en hul inkomste is eenvoudig nie genoeg om die oorweldigende mediese koste te dek wat oor jare opgebou het weens talle keeloperasies nie.

Die egpaar moet R300 000 of meer insamel om Gerhard se uitstaande mediese rekeninge, medikasie en nog prosedures te betaal, waaronder ’n keelrekonstruksie en ’n operasie om ’n gewas van een van sy niere te verwyder.

Gerhard veg al vir 47 jaar net om te oorleef!

Volgens Martie het Gerhard se 47-jaar lange stryd om te oorleef al in 1978 begin, toe ’n skildklieroperasie hom met ernstige asemhalings-, sluk- en verstikkingsprobleme gelaat het. Dokters het aanvanklik sy simptome afgemaak as ’n gebrek aan oefening en as iets psigologies, maar Gerhard het geweet daar is iets ernstig fout.

Ten spyte van die pyn, het hy vir tien jaar so aangehou, totdat sy toestand in 1988 drasties versleg het.

“Na hospitalisasie het dokters ontdek dat die senuwees van sy stembande tydens die 1978-operasie beskadig is. Dit het sy stembande verlam.”

Dit het chroniese asemhalingsprobleme, verstikking en slukprobleme tot gevolg gehad. Oor die volgende agt maande het Gerhard 16 keeloperasies ondergaan, insluitend die verwydering van albei stembande om ’n beter lugweg te skep.

“Wonderbaarlik het hy tog ’n mate van spraak behou en vir nog 34 jaar so normaal moontlik voortgeleef, ten spyte van voortdurende pyn en ongemak,” lui sy BackaBuddy-profiel.

Nuwe krisisse

’n Nuwe krisis het in Julie 2022 ontstaan toe Gerhard nie kon asem kry nie en hospitaal toe gehaas is. Hy het ’n nood-trageotomie ondergaan om suurstofvloei te verseker.

Dokters het ’n ontstellende ontdekking gemaak: kos en vloeistowwe het in sy longe beland, wat aspirasie, lewensgevaarlike infeksies en verstikkingsaanvalle veroorsaak het.

Vanaf September 2022 tot Januarie 2025 het Gerhard verskeie operasies ondergaan terwyl dokters probeer het om die balans te vind tussen suurstofvoorsiening, verstikking en om sy spraak te behou.

Old man who with machine in his throat.
Gerhard Deysel het al talle operasies ondergaan net om behoorlik asem te haal en te sluk. Foto: Verskaf.

Skaars toestand en nog operasies

Martie verduidelik dat sy toestand só skaars is dat dokters vir hulle gesê het daar bestaan geen mediese handleiding vir sy siektetoestand nie.

“Daar is nog drie operasies vir Januarie/Februarie 2025 beplan, maar dit kon nie voortgaan nie, omdat Gerhard ’n ernstige infeksie gekry het. Hy is gehospitaliseer, waarvan 46 dae in intensiewesorg was. Toetse het gewys dat alle kos en vloeistowwe in sy longe beland, en dokters het ’n voedingsbuis in sy maag plaas.”

Nog ’n harde slag het gekom toe ’n skandering ’n groot gewas op sy regternier gewys het.

“Ons pad vorentoe bestaan uit talle operasies en stygende kostes, aangesien Gerhard se nier ook verwyder is op 1 Julie 2025. Binnekort sal hulle die volledige keelrekonstruksie doen. Elke prosedure hou enorme risiko’s in, en die mediese kostes is massief. Ons is reeds onder groot finansiële druk, en met nog behandelings wat voorlê, kan ons dit eenvoudig nie alleen hanteer nie.”

Gerhard Deysel in die hospitaal tydens sy nieroperasie in Julie. Foto: Verskaf.

Boonop het hulle gehoor dat hy ‘n stent in sy hart ook moet kry.

Gerhard bly positief

Volgens Martie het Gerhard, ondanks 46 jaar se lyding, ’n onbreekbare gees en bly hy moedig, positief en dankbaar vir elke dag. Hy beskou sy oorlewing as ’n wonderwerk van God en hoop om sy storie van hoop en deursettingsvermoë met die wêreld te deel.

“Maar nou het ons julle hulp nodig om hom die vegkans te gee wat hy verdien.

Hoe almal kan help

• Bydraes: “Elke rand bring ons nader aan ons teiken van R300 000.”

• Deel: Versprei hierdie veldtog op sosiale media, WhatsApp en e-pos.

• Bid: “Ons glo in die krag van gebed en gemeenskapsteun.”

Gerhard en Martie bly by hul dogter, wat hul mediese fonds betaal.

Daar is ’n BackaBuddy-profiel geskep om die nodige fondse te probeer samel vir Gerhard se operasies
Enigiemand wat bydraes wil lewer, kan ingaan op die volgende skakel: https://www.backabuddy.co.za/campaign/support-gerhard-to-a-normalabnormal-life

“Ons is volkome afhanklik van die goedhartigheid van ander en God se genade. Uit die diepte van ons harte, dankie dat julle saam met ons in hierdie stryd staan”.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button