Mid Alarms se reaksiespan het ’n bedrywige Sabatsdag gehad, met ’n inbraak en gewapende roof waar Mid Alarms hulp verleen het.
Daar is Sondagoggend gemerk dat daar deur die nag by ’n drankwinkel in die middedorp ingebreek is.
’n Verdagte is omstreeks 03:00 Sondagmore op een van die drankwinkel se krintelevisiekameras opgetel in die kantoor.
Daar is met nadere ondersoek gevind dat die inbrekers op die yskaste na die kantoor geloop het.
In die kantoor is ’n valkluis oopgebreek en is daar ook kartondose in dieselfde vertrek leeggemaak.
Dit is egter tans nog onduidelik presies wat naas die kontant, in die kantoor vermis word.
Daar is op beeldmateriaal gemerk dat een van die verdagtes ’n handradio by hom gehad het, waarop hy ook tydens die inbraak gepraat het.
Hulle was skoonveld toe die drankwinkel Sondag oopgesluit is.
• Kort nadat Mid Alarms die drankwinkel gefynkam het vir beide die inbrekers, asook leidrade wat hulle moontlik nagelaat het, is ’n gewapande roof oor die tweerigtingradios aangemeld.
Mid Alarms het dadelik na die toneel by ’n middedorpse groentehandelaar gejaag.
Daar gekom is hulle meegedeel dat twee verdagtes die winkel omstreeks 08:15 ingestap het.
Hulle het gemaak of hulle inkopies doen en omstreeks 08:20 na die kassiere beweeg.
Daar het een verdagte die trollie uitgepak terwyl die ander verdagte die kassiere ingeblok het agter haar kasregister.
Die verdagte by die trollie het ’n sak na vore gebring en die kassiere beveel om geld daar in te sit.
Die kassiere het getalm om die kasregister oop te kry, toe die ander verdagte na die kantoorarea gestap het waar hy hom in die bestuurder vasgeloop het.
’n Stoeiery het tussen die bestuurder en die rower ontstaan toe die rower by die kasregister sy makker te hulp gesnel het.
Die bestuurder kon in die stoeiery met die twee rowers by sy eie wapen uitkom, waarmee hy ’n waarskuwingskoot afgevuur het, maar opsetlik mis gemik is.
Die rowers het gevlug maar buite ’n skoot afgevuur op omstanders wat op een van hulle geskreeu het.
Die skoot wat afgevuur is was gelukkig ’n fopkoeël (blank) en niemand is beseer nie.
Dit is onduidelik of die rowers enigiets kon buit.
Mid Alarms was binne sekondes van die eerste alarm wat gemaak is, daar.
Ongelukkig het die rowers in die strate saam met voetgangers weggesmelt.









