News

Monster bulte laat fietsryers knor in RideJoburg

Deseré se ster skyn helder tussen die vroue.

Wie het gesê Johannesburg het nie bulte nie?

Nie sommer sulke bulte nie, monsters!

Plaaslike fietsryers wat gister die RideJoburg aangedurf het, het weer met ’n skok agtergekom Johannesburg se strate is nie almal plat nie.

Jy spring in die FNB Stadion weg en jaag teen hoë spoed op ’n grafstil hoofweg, Kyalami lê voor.

Dit is op dié beroemde motorwedrenbaan waar jy Jody Scheckter in sy rooi Ferrari sien jaag het, waar die eerste knor begin.

Anton Heiberg en sy seun Zan-Roux. Foto: Verskaf.

Kyalami, liewe lesers, is ook nie plat nie.

Jy begin dadelik met ’n bult wat die manne van die seuns skei.

Tertius Harmse en Quintin Kellerman.
Tertius Harmse en Quintin Kellerman.

Daarna is dit weer teen een helse spoed in die rigting van die ou Crowthorne Corner. ’n Draai wat die meeste Grand Prix ongelukke in die geskiedenis opgelewer het.

So vyf kilometer buite Kyalami merk ’n ou hier langs my op “hierdie is ons laaste afdraende”.

“Dankie vir die goeie nuus,” antwoord ek terug.

Johnny en Maggie Smit.

Dan is dit klim, klim, kli…kkk…, kkk…

Tandekners!

Dit is amper soos Comrades, oorverdowende musiek, puik waterpunte, vriendelike aanmoediging…Mzansi blymoedigheid.

Maar geen aanmoediging maak ’n bult plat nie.

Jy moet net trap en trap, en tttt…

Wanneer jy oor die ikoniese Mandelabrug jag, kry jy weer  hoop, maar die bene is gaar.

Middelburg se ster van die dag was Deseré Janse van Vuuren met 3:12;06 en sesde in die ouderdomsgroep vir vroue 45 tot 49 jaar.

Kobie Groenewald het ook ’n groot mylpaal bereik deur sy 22ste Johannesburg wedren te voltooi.

Interessant is dat in die meeste gevalle die vroue vir die mans weggery het wanneer egpare saam gery het.

Middelburg uitslae:

  • Anton Heiberg 5:45, Zan-Roux Heiberg 05:17:18, Piet Swanepoel 3:42, Francois Hefer 3:34, Tobie van den Bergh 3:22, Pine Pienaar 3:18, Andrew Thomson 3:09, Quintin Kellerman en Tertius Harmse 6:37, Kobie Groenewald 3:49, Riaan Janse van Vuuren 3:12, Deseré Janse van Vuuren 3:12, Angelique Steyn 3:52, Jurgens Steyn 4:05, Chantelle Honeyborne 3:29, PC Nell 3:02, Corné Ferreira 3:07, Pierre van Tonder 5:58, Karin Stapelberg 3:32, Francois Stapelberg 3:45, Johnny Smit 4:47,  Anel Martino 4:24, Mariaan la Grange 4:24, Reynard Vorster 3:43, Brenda Vorster 5:06, Ricardo Vorster 3:55.
  • Maggie Smit het nie die wedren voltooi nie, nadat sy vyf kilometer vanaf die wegspring geval en ernstig beseer is. Sy word steeds in die Netcare Garden City Hospitaal behandel.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button