Man gevonnis wat jong pa voor sy driejarige kind doodskiet
Die man wat sewe jaar gelede met ’n wapen gespeel en in die proses ’n jong pa doodgeskiet het, is vanoggend gevonnis.
Phillip Rudolph de Klerk (60) is vandag tot 10 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy op 27 April 2018 vir Gerhard Coetzer (29) doodgeskiet het terwyl hy ’n wapen rondgeswaai het.

Die twee jaar wat hy reeds in die tronk was as verhoorafwagtende is in ag geneem en is twee jaar van die vonnis opgeskort vir vyf jaar. Hy sal dus effektief nóg agt jaar in die tronk deurbring.
Slagoffer se vrou herleef weer die dag se gebeure
Gerhard se vrou, Bianca, het in trane uitgebars toe sy hoor dat De Klerk gevonnis is.
“Ons kan nou aangaan met ons lewens, geregtigheid het geskied. ’n berg is van my skouers af. Nou kan ek ons seuntjie help.” Ronaldo was drie jaar oud toe sy pa voor hom doodgeskiet is tydens die partytjie in Walter Sisulutstraat.
Tussen die snikke deur het sy vertel hoe Ronaldo gisteraand weer gevra het of De Klerk (wie hy ken) al gevang is vir sy pa se moord.
“My kind was in trane van dankbaarheid toe hy hoor dat Phillip tronk toe gestuur is.”
Tussen die snikke deur het die dag se gebeure weer voor haar afgespeel.
Van die mense by die partytjie het gery om nog eetgoed te gaan koop en het Bianca, haar twee jong kinders, asook ander volwassenes en kinders agtergebly.
Beskuldigde het met die wapen gespeel toe die skote afgaan
Phillip het met ’n wapen gespeel en het twee skote afgegaan. Een is deur ’n buitekamervenster en die ander een het vir Gerhard net onder sy ken in die keel getref. Hy het opgespring, sowat drie treë geloop, inmekaar gesak en kort daarna gesterf.

Bianca sê sy het by haar man op die gras gesit toe Phillip haar opgetrek het van sy liggaam af.
“Hy het vir ons almal gesê om te sê dat dit rowers was wat hom geskiet het. Hy het ook vir my gesê dat hy na my en my kinders sal kyk as ek saamjok.” Daar was ook ’n dreigement dat as sy nie saam met hulle stem nie, daar gesê sal word dat sy haar man geskiet het.
Daarna het Phillip en ’n ander persoon weggery by die huis en eers later teruggekom. Dit is in daardie tyd wat daar van die wapen ontslae geraak is.
Kort nadat Gerhard doodgeskiet is, het ’n man buitekant die erf inmekaar gesak en het paramedici hulp verleen.

Bloed in die lapa waar Gerhard geskiet is
“Nadat almal weg was en Gerhard se lyk verwyder is, het ek onder die lapa gesit en kyk na die bloed waar Gerhard geskiet is. Niemand het aangebied om dit skoon te maak nie en my ouma het later ’n mop gevat en dit skoongewas.”
Bianca is kort na die voorval in die hospitaal opgeneem, maar in die hospitaal het sy vir haar oupa alles vertel. Die dag toe sy ontslaan is, het hulle gery na Middelburg waar sy vir die polisie vertel het wat regtig nie dag gebeur het. Sy het ook gesê dat haar driejarige kind alles sien gebeur het.
Seuntjie se hele lewe omver gewerp met pa se skietdood
Die dag toe sy pa doodgeskiet is voor hom, het Ronaldo se hele lewe verander.
Buiten die nagmerries het hy tot vandag toe nog konsentrasieprobleme. Hy het ook gehuil toe hy hoor dat die man wat sy pa geskiet het, tronk toe gestuur is. “Ek glo sy hartjie sal nou rustiger raak.”
Bykans ’n jaar later het ’n forensiese maatskaplike werker met klein Ronaldo gewerk om sy getuienis oor die gebeure te kry.
Dogter sal nooit haar pa ken nie
Gerhard se dogtertjie, Biané, was 10 maande oud toe hy doodgeskiet is en meld Bianca dat dit vir haar hartseer bly dat sy nooit haar pa sal ken nie. “Ek sal sy nagedagtenis oor haar pa lewend hou vir haar.”
Buiten die hartseer dat haar kinders se pa van hulle gesteel is, het sy die laaste sewe jaar gesukkel om sy dood te verwerk. Sy het gemeld dat daar selfs mense was wat gedink het sy het iets met sy dood te doen. “Dit is nou soos ’n berg wat van my skouers af is. Dit is ’n verligting dat mense nou sal besef dat ek niks te doen gehad het met Gerhard se dood nie.”
Broer dankbaar vir geregtigheid
Gerhard se broer, Pieta, het ook van dankbaarheid gehuil toe hy hoor wat die uitspraak is. “Ons kan net dankie sê dat geregtigheid geskied het.”
- De Klerk is in November 2023 gearresteer en is aanvanklik vir moord aangekla.
Vonnis
De Klerk is gister skuldig bevind aan strafbare manslag en vandag gevonnis.
Die hof het benadruk dat daar by vonnisoplegging gekyk moet word na die ernstigheid van die oortreding, die persoonlike omstandighede van die beskuldigde, sowel as die belang van die samelewing.
Daar is ook gewys op die grondwetlike reg van elke persoon tot lewe, en dat ’n nalatige dood die gepaste straf moet dra.
Volgens die uitspraak het De Klerk se optrede, om onder die invloed van alkohol ’n gelaaide vuurwapen rond te swaai, die lewens van ander in gevaar gestel en uiteindelik tot die dood van ’n onskuldige persoon gelei.
Daar is verder beklemtoon dat sodanige gedrag die grondwetlike reg op lewe ondermyn, en dat die gemeenskap van die regbank verwag om beskerming te bied teen individue wat ander se lewens neem.
Verswarende faktore sluit in dat De Klerk ná die skietvoorval getuies aangesê het om te jok en te beweer dit was ’n rooftog, dat hy die toneel verlaat het en dat die wapen nog nooit gevind is nie. Die hof het ook aangedui dat De Klerk geen berou getoon het nie en probeer het om die blaam op ander te plaas.
Versagtende omstandighede wat oorweeg is, sluit sy ouderdom, gesondheid, familieverantwoordelikhede (drie kinders en ses kleinkinders), en die feit dat hy reeds twee jaar in aanhouding was, in.
Daar is egter bevind dat tronkstraf toepaslik is, gegewe die aard van die misdaad.
- Buiten die agt jaar tronkstraf, is De Klerk ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
