Jong ma steeds in intensiewe eenheid na RideJoburg val
Ma en dogter sou more in Alzu wedren ry.
Die fietsryer wat Sondag tydens die RideJoburg Fietswedren ernstig beseer is, Maggie Smit (42), word na vyf dae steeds in die Netcare Garden City Hospitaal se intensiewe sorgeenheid behandel.
Haar man, Johnny, voorsitter van Middelburg Fietsryklub, sê sy is gister geopereer “en die dokter het meer werk as wat hy verwag het”.
Sy gaan Maandag terug teater toe vir ’n opvolg operasie.
Volgens Johnny is sy vrou nog “baie geswel en seer” maar sy kon darem al bietjie jellie eet en sop drink.
Maggie het vyf kilometer na die begin van die wedren oor ’n groep fietsryers geval wat voor haar neergeploeg het. Sy het haar bewussyn verloor en is met ’n ambulans afgevoer na die Garden City Hospitaal toe.
Nog ’n fietsryer het sy ribbes tydens die voorval gebreek en is ook na dieselfde hospitaal geneem.
Navrae is aan die organiseerders van die wedren gestuur, maar geen terugvoer is na vyf dae ontvang nie.
Vir die jong fietsry familie is die teleurstelling nog groter, omdat Maggie en haar dogter Simone aan more se Alzu bergfietswedren vanaf die Alzu Petroport sou deelneem.
Die tweemanskap het derde geëindig in die Tapkar wedren.
Simone is ’n graad agt leerling aan Hoërskool Middelburg en neem ook vir die skool aan bergfietswedrenne deel.
