Beseerde fietsryer dalk die week ontslaan
Maggie het oor bondel fietsryers geval tydens die RideJoburg resies.
Die Middelburg Fietsryklub lid wat ernstig beseer is tydens die RideJoburg Fietswedren oor 97km, Maggie Smit (42), kan dalk hierdie week al huis toe gaan.
Sy word vandag weer in die Netcare Garden City Hospitaal aan haar mond geopereer.
Haar man, Johnny, sê dit gaan die laaste 24 uur baie beter met haar en sy kan dalk later die week ontslaan word.
Daar lê egter nog ’n lang pad van herstel voor met twee maande se rus.
Maggie het vyf kilometer na die wegspring oor fietsryers geval, wie se handvatsels vermoedelik aan mekaar geraak het, wat veroorsaak het dat hulle neerslaan.
Sy is per ambulans na die Garden City Hospitaal afgevoer, waar sy sedertdien in die intensiewe sorgeenheid behandel word.
Verskeie navrae is aan die RideJoburg organiseerders oor die voorval en andere gestuur, maar na ’n week is daar steeds geen antwoord nie.
