De Villiers sê koerant gaan berig: “O hel, hier kom ’n ding”
Nuus oor wedrenne is musiek in fietsryers se ore.
“Omstrede Steve-promotor sy Amarok kwyt, trek stil-stil uit spoghuis”. Terwyl Rapport gister so berig het oor Wynand de Villiers, het die man wat in die spervuur is, self ’n salvo afgevuur, met ’n plasing op sosiale media waarin hy sê “hulle het gedink ek gaan vir altyd stilbly”. Daar word dan aangekondig dat hy besig is om ’n boek te skryf met die titel “Wanneer die stilte breek”.
Die boek kan nou reeds bestel word, alhoewel De Villiers nog besig is met die manuskrip.
Met die klein oorloggie wat tussen De Villiers en tradisionele media woed, staan daar duisende ongelukkige fietsryers.
Fietsryers, ook van Middelburg Fietsryklub, is vir maande gelok met belaglike aanbiedinge, om in te skryf vir wedrenne reg oor die land.
Plaaslike fietsryers het mekaar aangemoedig om nie net vir een nie, maar tot vir drie wedrenne in te skryf. Bedrae van tot R2 200 is betaal.
Toe die wedrenne op ’n streep gekanselleer word, was die fietsryers hulle geld kwyt.
Die eerste was die Tour du Cap vyfdag toer vanaf Wellington, wat ook internasionale deelnemers gelok het. Daarna het die Boland 100 myler, Montecasino, Emperors Palace en Groot Trap gevolg.
Fietsryers is selfs aangemoedig om in te skryf vir die Groot Trap, wat eers in April 2026 in Pretoria sou plaasvind.
Dit was met ’n groot skok toe die land se fietsryers moes verneem die wedrenne is gekanselleer en hulle inskrywingsgeld is verbeur.
Duisende rande, indien nie miljoene nie, is betrokke.
Daar is egter nou goeie nuus, nadat De Villers Cycling gelikwideer is.
Fietsryers kan aansoek doen by die likwidateurs om hulle geld terug te kry.
’n Volle naam, identiteitsnommer, e-posadres, telefoonnommer, die bedrag wat betaal is en bewys van betaling, moet aan stadens@stadens.co.za gestuur word.
De Villiers het vir jare fietswedrenne in Suid-Afrika aangebied, totdat sy ketting afgekom het, na ’n paar mislukte musiekkonserte.
Hy dreig nou om in ’n boek te vertel oor “die ware verhaal van mag, verraad en verlossing in die Afrikaanse musiek industrie.”
De Villiers sê “Wanneer die stilte breek, gaan die ingewikkelde masjinerie van Suid-Afrika se Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf blootlê – die manipulasie, wedywering, agterkamertransaksies en die prys van lojaliteit – deur ontmoetings met van die mees herkenbare figure, insluitend Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Juanita du Plessis, Arnold Coleske, Albertus Potgieter, Murray Lubbe, en ander, wie se invloed ’n era definieer.”
De Villiers sê na sy persverklaring oor die boek, sal Rapport se opskrif wees: “O hel, hier kom ’n ding”.
Daar is navrae oor die persverklaring aan De Villiers gestuur, maar geen terugvoer is ontvang nie.
