KYK: Balonne vir Janeke op haar agtste verjaardag
Haar gunsteling liedjie is gespeel op die plek waar sy dood is.
Agt balonne is Vrydag aan die kruis vasgemaak waar Janeke Brink voor haar twee boeties doodgery is in Meyerstraat. Janeke sou Vrydag haar agtste verjaardag vier en haar familie het balonne aan die kruis vasgemaak wat kort na haar dood in die straat geplant is.
Haar gunsteling liedjie, ‘Dorp toe’ deur Fatman, is by die kruis gespeel.

Janeke se twee boeties het gesien hoe die trok hul sussie tref en oor haar fyne liggaampie ry. Hulle was al drie op pad winkels toe om lekkers te gaan koop toe die tragedie in Junie vanjaar afgespeel het. Derduisende mense landswyd het met afgryse op die ongeluk gereageer nadat die nasionale pers ook daaroor berig het.

Terwyl haar boetes op die middelman gewag het vir die trok om verby te ry, het Janeke aangehou ry, moontlik omdat sy nie die trok gewaar het nie. Net na die ongeluk, het een van haar boeties Janeke se oupa en ouma gaan roep om te gaan help.
Sy was egter reeds dood met hul aankoms.
@middelburgobserver Family and friends of Janeke Brink commemorating the bubbly girl’s eighth birthday on Friday. Eight balloons were tied to a cross in Meyer Street where Janeke was struck and killed by a truck in front of her two brothers, while riding on her bicycle. Eight pink ballons were also placed at her grave site. She trageically died in June this year on her way to buy sweets with her brothers.
Daar is intussen spoedkameras in Meyerstraat geïnstalleer om voertuie wat jaag, insluitend trokke, voor stok te kry. Honderde trokke ry daagliks deur Meyerstraat, en selfs burgemeester Mhlonishwa Masilela was geskok oor die toedrag van sake nadat hyself gesien het hoe tien en meer trokke per minuut die straat op en af ry. Vandaar die spoedkamera.

Janeke se boeties, nou onderskeidelik 10- en 11-jaar oud, verwerk nog die gebeure. Volgens hul ma, Janeke, sukkel die oudste tans om sy humeur in toom te hou, en daar word nou gekyk om die seuns by ’n plaaslike sportklub, of robotikaklub, in te kry vir ’n uitlaatklep.

Soos met haar begrafnis het Janeke se jongste boetie ontroosbaar gehuil Vrydag. Dis nou maar bykans vyf maande sedert Janeke voor hul oë dood is. Hulle ondergaan ook nog traumaterapie en berading.

Plaaslike sportklubs wat bereid is om die seuns sonder betaling in te neem, kan Gerhard by die Middelburg Observer by 013 243 1434 skakel.
