News

’n Man van eer en hart – Kaptein Willie de Waal

Willie de Waal was ’n gerespekteerde polisiekaptein wat met moed, en medemenslikheid gedien het.

Die gemeenskap van Dullstroom en die Suid-Afrikaanse Polisiediens rou oor die afsterwe van Kaptein Willie de Waal (53), wat hierdie week in die Life Midmed Hospitaal oorlede is.
Volgens sy seun, Frans, is De Waal in die hospitaal opgeneem omdat sy galblaas verwyder moes word. Hy was ses dae in die hospitaal voor sy afsterwe.

Die afgelope paar jaar het hy dapper teen kanker geveg en ook ’n drievoudige hartomleiding ondergaan, maar sy gees het nooit gewankel in geloof nie.

Kapt. De Waal het meer as 33-jaar ononderbroke diens gehad.
Hy het sy loopbaan in 1992 in Delmas begin, en daarna in eMalahleni (Witbank) en Belfast gewerk, voordat hy in Dullstroom die leisels by die polisiestasie oorgeneem het.

In 2022 is hy as stasiebevelvoerder aangestel, ’n rol wat hy met trots en deernis vervul het tot sowat ses maande gelede.

Willie en Lizanne de Waal. Foto: Verskaf.

Lt-kol. Jabu Ndubane (provinsiale woordvoerder) beskryf hom as ’n offisier wat met nederigheid gedien het: “Kaptein Willie de Waal het talle erkennings ontvang, onder meer die 10-, 20- en 30-jaar medaljes vir getroue diens, asook die Suid-Afrikaanse Polisiediens Eeufeesmedalje. Hy was die soort leier wat eerder saam met sy span gestaan het as voor hulle.”

Maj-genl. Mashadi Selepe (Nkangala Distrikskommissaris) sê: “Die polisie is diep bedroef oor kaptein De Waal se afsterwe. Alhoewel hy gesondheidsprobleme gehad het, het hy sy werk nooit laat ly daaronder nie. Sy stoel sal leeg wees, maar sy nalatenskap sal bly.”

Vir sy familie was hy meer as net ’n polisieman. Frans vertel dat sy pa altyd ander laat lag het – “’n grapgat” – met ’n sagte hart, veral vir sy kleinkinders.
Hy sê sy pa het kort voor sy dood dikwels gepraat oor hoe hy sy ouers, Frans snr en Koekie de Waal, mis.

Willie en Lizanne saam met Willie se ouers, Frans en Koekie de Waal. Foto: Verskaf.

Kapt. De Waal laat ’n groot leemte, maar ook ’n nalatenskap van lojaliteit, humor en liefde.

Hy word oorleef deur sy vrou, Lizanne, seuns, Frans en Cois, dogters, Zandria en Menandie, kleinkinders, Ayden en Zuanelle, en sy broers, Dawid en Seun de Waal.

Die roudiens vind Vrydag om 10:00 plaas by die Evangelies-Gereformeerde Kerk in Belfast. ’n Aanlyn Facebook-uitsending sal beskikbaar wees vir dié wat nie die diens kan bywoon nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Carmia Jansen van Vuuren

Carmia is an up-and-coming junior journalist at the Middelburg Observer. She has a burning passion for creative writing and poetry. She is a qualified language educator but fiercely enjoys the challenges that writing and reporting offer. Her focus spreads over different fields, including human interest, hard news, investigative reporting, and sports.
Back to top button