News

Wat beteken daardie oggend- en aand boodskappies vir jou?

Valerie se pad van swaarkry en die waarde van R100.

Valerie Dannhouser se naam kon net sowel Swaarkry gewees het.

Het Valerie so 20 jaar gelede ontmoet.

Wyle Ian Brits het haar by die kantoor afgelaai.

Ian was deel van die Brits-boeties Hannes, Andre en Michiel.

Hy het haar en haar seun op die Belfastpad opgelaai en by my gelos met “hulle sal jou help”.

Dit was spertyd en my tolleransievlakke was laag.

“My seun het ’n mediese probleem.”

Dit is beantwoord met ’n kortaf “maar ek  kan nie help nie, ek is nie ’n dokter nie”.

Om ’n lang storie kort te maak, ons het gehelp.

Tien jaar later het Valerie andermaal by die kantoor opgedaag…om weer dankie te sê.

In 2023 braai ons wors vir die inwoners van Koppiestraat.

Valerie bly ook daar.

Ons kuier lekker.

Valerie Dannhouser by Tobie van den Bergh.

’n Paar maande later bel sy weer.

“Kan jy nie help met ’n bed nie, ek is weg by Koppiestraat”.

Barmhartige samaritane gaan lewer vir haar ’n splinternuwe bed af.

Valerie word een van my “boesemvriende”.

Daardie een wat elke ogggend en elke aand vir jou ’n mooi WhatsApp-boodskap stuur.

Somtyds die mooiste videotjies.

“Jesus het jou lief”-boodskappies wat jy partykeer nie eers lees nie.

Haar stemboodskappe is altyd tien minute lank.

Te lank om na alles te luister, want daar is mos nog boodskappe om deur te worstel, en nog…

“Mooi aandjie, Heer soos my dag eindig, gaan my gedagtes aan…

“Ek groet maar saggies vanoggend…

“Vrede en rustige aand gevul met drome en vol liefde…

Swaarkry en Valerie het lank saam geloop.

Sy bieg ’n maand later, die bed is verkoop.

Na ’n relletjie met ’n familiellid is sy weer op soek na ’n ander heenkome.

Vroeg hierdie jaar laat weet sy ”ek het fase vier kanker”.

En later “die hospitaal het nie doeke nie, ek kom ook nie reg by hospice nie.

“Kan jy vir my R100 oorbetaal vir doeke?”

Dink toe aan die bed.

Eenkeer gebyt…

R100?

Wat is R100 vir die meeste mense?

Op die banktoep word haar naam verewig “VA Dannhouser”.

’n Maand later dieselfde versoek.

In Augustus laat weet sy “hierdie is die laaste keer wat jy vir my R100 oorbetaal”.

Waarom die laaste keer?

Stuur op 21 Augustus vir haar ’n video “TheFaithful”.

I ask God why do bad things happen to good people?

And God answered

Even the strongest trees

Face the harshest winds

Every struggle have a purpose to make you stronger

I am always with you, even in silence

I am your strength, you don’t have to do this alone

I have never left you.

And I never will

September kom.

Valerie se boodskappe het opgedroog.

Betaal maar in elk geval die R100 doekegeld.

’n Doodse stilte.

Geen oggendboodskap, geen aandboodskap.

Geen stemposboodskap.

Geen video.

Stuur WhatsApp-boodskappe…stilte.

Bel haar…stilte.

Gaan soek op Facebook.

Op haar persoonlike bladsy die volgende boodskap:

“In liefdevolle herinnering aan Valerie Ann Dannhouser, gebore 12 Junie 1969 –   oorlede 24 Augustus 2025.

“Kerkdiens om 12.00, besigtiging tussen 9 en 10 by Roseleigh Begrafnisdieste”.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button