Die plek wat wêreldsterre oplewer maak weer so met ’n Aitsa
Van Parys na Kyiv weerklink die naam van ’n dorp met ’n warm hart.
Liewe ouers, wil julle ’n wêreldster oplewer?
Stuur jou kind dan na Middelburg!
Nee-nee-nee, hierdie is nie ’n advertensie vir ’n skool nie.
Dit is feite.
Middelburg met sy warm hart, plattelandse atmosfeer, top fasiliteite, briljante afrigters en onderwysers, ’n gemeenskap met oorvloed presteerders en die titel “Dorp van die Jaar”, lewer week na week reg oor die wêreld wenners op.
Van Parys na Kyiv en België, weerklink die naam: Middelburg!
Jy raak skoon uitasem om al die prestasies op te noem.
En dit is nie net op sportgebied nie, maar musiekverhoë tot restaurante en armdruk wêreldkampioenskappe.
Van Kwagga tot Jan, Jano, Franco, Gustav, Bianca, Leandro en Christiaan.
Suid-Afrika se eerste Michelin-ster ontvanger, Jan-Hendrik van der Westhuizen, het die toekenning vir sy restaurant in Parys met die naam “Jan” ontvang.
Toe hy in Maart 2016 die bekendstelling van sy boek, “JAN – my Franse kosavontuur”, op Middelburg gehou het, het hy gesê “daar is iets in Middelburg se water, want hier kom nét goeie mense uit hierdie dorp. Hier sit vanmôre mense wat blompotte, wat ek uit ou uitlaatpype gesweis het, by my gekoop het, toe ek klein was. Selfs van my onderwysers is teenwoordig, om hierdie spesiale dag saam met my te vier. Die ondersteuning van die dorp is ongelooflik.”
Maar daar is vele ander presteerders en nog meer:
Leandro Cordier was hierdie jaar derde in sy afdeling by die wêreld armdruk kampioenskappe in België.
Oud Hoërskool Middelburg leerling en netbalster, Bianca Lubbe, is vier weke gelede aangewys as die Universiteit van die Vrystaat se junior sportvrou van die jaar.
Gustav Basson is een van die land se beste fietsryers met verskeie oorwinnings op sy kerfstok. Hy was twee weke gelede sesde in die Suid-Afrikaanse kriterium kampioenskappe.
Daar is verskeie rugbysterre wat van Middelburg kom
Boeboes Coetzee, Kwagga Smith, Grant de Jager, Christiaan Vlok, Jano Venter, Conrad Breytenbach, Polla Fourie, Wynand Claassen, Tommy du Plessis…
Net voor ons nou heeltemal uitasem is.
Die oud HTS Middelburg leerling, Marco van Deventer, het die naweek Pretoria FM se beste liedjie skrywer van 2025 toekenning gewen. Hy het die liedjie Huis, gesing deur Laurika Rauch, help skryf.
En nou kan Middelburg ook uit en mond sê: Aitsa!
Die wêreldbekende komponis en dirigent wat sy skoolloopbaan aan Hoërskool Middelburg voltooi het, Franco Prinsloo, het ’n Aitsa-toekenning ontvang vir beste klankbaan vir ’n film of televisie produksie.

Dit was vir Nagvlug Films se Nêrens Noord-Kaap Deel 2 se klankbaan.
Franco se oorspronklike komposisie van Lumen Christi is al deur die Kyiv simfonie orkes in Oekriaïne uitgevoer.
Nouja, nou is ons heeltemal uitasem.
Liewe ouers, miskien kan julle die lys van ons dorp se presteerdes aanvul.
En julle ouers wat nog moet besluit waar moet julle kind volgende jaar sy hoërskoolloopbaan voortsit.
Daar is net een plek, Middelburg!
Dit is natuurlik as jy ’n wêreldster wil oplewer.
