Gastehuise vee voor munisipaliteit se deur met skoonmaakveldtog
Middelburg gastehuise span saam om skoon te maak.
Lede van ’n plaaslike toerisme organisasie het onlangs die strate ingevaar om bietjie skoon te maak.
Met verskeie van die dorp se halfweg-stortingsterreine wat nou al meer as twee weke lank toe is, verdrink die dorp onder rommel.
Een van die trokke is Maandag weer uit na herstelwerk, terwyl die tweede nog wag om reggemaak te word.
Die toerisme-organisasie wat uit verskeie plaaslike gastehuise bestaan, het die skoonmaakveldtog as een van sy jaarlikse gemeenskapsprojekte gekies.
Kanonkop gastehuise het op dié woonarea gefokus en is daar onlangs ’n reuse sleepwa vol swartsakke met vullis digby die plaaslike brandweer weggery.
Daar is besluit om rondom die Lilian Ngoyistraat-brug en die brandweer skoon te maak.
Die brandweer is ook versoek om jaarliks die gras aan weerskante van die brug met beheerde brande skoon te skroei.
Die area trek ook talle dakloses wat rondom die brug bed gemaak het.
Een van die bosslapers wou juis hand bysit om rondom sy slaapplek skoon te maak, teen ’n fooi natuurlik.
Volgens Elna Lewis, wat betrokke is by die organisasie, geld die ‘gebreekte-venster beginsel’ onder deelnemende gastehuise.
Die beginsel sê dat visuele tekens van misdaad, soos rommelstorting, ander aanspoor om dit ook te doen, en so ’n bose kringloop aan die gang te sit.
Met dié skoonmaak hoop die organisasie dat dit rommelstrooiers twee keer sal laat dink om skoon areas te besoedel.
